Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 November 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Please Call Me-uitvinder, Nkosana Makate moet verskeie kostes delg nadat sy eis teen Vodacom geslaag het. Die koerant skryf een van die eisers is sy litigasiebefondsers wat tot 40-persent van die skikking kan eis en dit kan moontlik tot verdere hofsake lei.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig ‘n oudwerknemer van die Chubby Chick-hoenderboerdery in Potchefstroom het op die onderneming se eienaars, Jonathan en Deon Fourie losgebrand en een van die twee doodgeskiet. Die 73-jarige skieter is self tydens die voorval gewond.

Dan skryf die webblad die skrywer en TV-aanbieder, Mynie Steffens is dood toe die helikopter wat sy gevlieg het op ‘n plaas in Patensie in die Oos-Kaap kragdrade getref het. Steffens was die aanbieder van Kom ons speel met vuur op VIA.

En ten slotte is daar nuus oor AARTO wat tot middel volgende jaar uitgestel is.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf Duduzile Zuma-Sambudla het onskuldig gepleit op aanklagte van terrorisme en aanhitsing tot openbare geweld wat verband hou met onluste wat veroorsaak is deur die inhegtenisneming van haar pa, Jacob Zuma. Daar is gister in die hof aangevoer sy is die slagoffer van vervolging.

En tweedens word berig oor die parlementêre ad hoc-komitee se voorgenome besoek aan die gevangenis om Vusimuzi ‘Cat’ Matlala te ondervra.

# Sowetan:

Berig die 19-jarige Jovencio Tembe het gister deur die rommel gekrap in die Steve Biko-nedersetting in Etwatwa, Ekurhuleni waar sy pa, ma en drie sibbe die naweek doodgebrand het.

# En The Citizen:

Skryf kenners is van mening Suid-Afrika moet ophou om sy tyd te mors met president Donald Trump en eerder fokus op diplomasie gerig op die era na Trump se ampstermyn.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met die dood van Mynie Steffens en berig ook oor die uitstel van AARTO.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig die Xhwili-kliniek in Bityi naby Mthatha is steeds gesluit nadat ‘n vroulike sekuriteitswag ‘n week gelede daar doodgeskiet is.

En tweedens skryf die koerant die Oos-Kaapse vakansiestrande is besig om hul vere reg te skud vir die komende vakansieseisoen.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die polisie in die KwaZulu-Natalse Middellande het ‘n moordondersoek van stapel gestuur na die ontdekking Sondagoggend van ‘n verbrande liggaam in ‘n voertuig in Mpophomeni. Die slagoffer is geïdentifiseer as ‘n plaaslike inwoner Mike Pryor van Kwa Heri Farm in die Indezi-vallei.

En tweedens word berig New Castle is besig met opruimingswerk na ‘n hewige haelstorm Sondag.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die menseregteprokureur Norman Tjombe sê die voortslepende staking van landdroste plaas die land se regstelsel op die spel.

Dan skryf die koerant die gestremde dogter van ‘n voormalige oorlogsveteraan is dakloos ná sterk winde en swaar reën naby Mariental haar huis in puin gelê het.

En laastens is daar nuus oor doktor Francois Becker van die Nasionale Museum van Namibië wat saam met ‘n internasionale span ses nuwe geitjie-spesies ontdek het.