Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 November 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die nuwe uitvoerende hoof van die JSE, Valdene Reddy begin haar ampstermyn in ‘n geding met die Mededigingskommissie oor sogenaamde agterdogwekkende gedrag.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig oor die ontvoering van die ondersoekhoof van die ondersoekdirektoraat teen korrupsie, Matthews Sesoko. Hy is Vrydagaand aangerand en van sy selfoon en skootrekenaar beroof en ure later vrygelaat. Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die voorval met Sesoko se werk verband hou.

Tweedens skryf die webblad die waarnemende hoof van Johannesburg se Metropolisie, Eldred Fontein sê die bendegeweld in Westbury is nog nie so erg soos die Kaapse Vlakte nie.

En laastens word berig ‘n fietsryer is dood nadat hy Satedag deur ‘n motor op John Vorsterrylaan in Centurion getref is.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die regering sê die VSA se boikot van die G20-beraad sal geen uitwerking hê nie – die beraad gaan voort.

En tweedens word berig daar is oproepe uit talle oorde dat die polisie ’n spesiale taakspan stig om taximoorde te ondersoek.

# Sowetan:

Berig met die 2026-verkiesing wat nader kom, styg politieke moorde aangesien raadsposisies oor mag beskik veral ten opsigte van begrotingsbesteding en tenders.

# En The Citizen:

Skryf ook oor die ontvoering van Matthews Sesoko. Volgens die koerant word daar steeds nie genoeg gedoen om die ondersoekers van sensitiewe sake en fluitjieblasers te beskerm nie.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George het die DA se besluit om hom as adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging aan te stel van die hand gewys omdat dit ‘n posverlaging sou beteken. George is nou sy ministerspos kwyt aangesien Willie Aucamp gaan oorneem. George se skuif na Handel en Nywerheid sou berus op sy goeie Amerikaanse betrekkinge.

En tweedens skryf die koerant die Suid-Afrikaans-gebore kunstenaar Marlene Dumas se werke is in die permanente uitstalling van die Louvre opgeneem.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig die plaaslike inwoners is omgekrap omdat die Langeni-pas tussen Mthatha en Ugie steeds gesluit is nadat daar vroeër ‘n transitorooftog op die roete plaasgevind het.

En die koerant skryf nuwe wetgewing word in die vooruitsig gestel wat ouers die reg sal gee om ‘n fetus te begrawe.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die Zoeloe-koning, Misuzulu kaZwelithini is gister met sy derde vrou getroud. Sy is koningin Nomazamo Myeni en die geleentheid het by die koninklike paleis in KwaNongoma plaasgevind.

En tweedens word berig die plaaslike Dierebeskermingsvereniging het nie genoeg geld om ‘n veearts aan te stel nie.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig ’n standaard vervat in die Wet op Finansiële Instellings en Markte wat ’n verbod plaas op die uitkontraktering van die kernfunksies van mediese fondse en fondsadministrateurs in Namibië, hou ’n ernstige bedreiging vir die bedryf in.

Dan skryf die koerant president Netumbo Nandi-Ndaitwah sê Namibië is hoogs kwesbaar vir klimaatuitwerking, maar ook ‘n leier in volhoubare oplossings.

En ten slotte word berig Swakopmund is as die Beste Avontuurtoerisme-bestemming in Afrika aangewys.