Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 November 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig president Cyril Ramaphosa het die opknapping van Johannesburg vir die G20-beraad verdedig. Hy sê talle stede wêreldwyd doen dit voor groot geleenthede.

# Mail & Guardian op Vrydae:

Lei met: “WAR OVER MKP MILLIONS”. Die koerant skryf oor die binnegevegte in die MK-party.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die ondersoekdirektoraat teen korrupsie sê hy het geen heksejag teen sekere polisiebestuurslede nie. Die hoof van die diektoraat, Andrea Johnson het aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê dis slegs bewerings en daar is in die verlede ondersoek ingestel, maar daar is geen bewyse gevind nie.

En tweedens skryf die webblad die Oekraïnse ambassadeur in Suid-Afrika, Olexander Scherba, het bekend gemaak dat die 17 Suid-Afrikaanse huursoldate wat in Oekraïne vasgekeer is, vir Rusland geveg het.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf nadat die Hooggeregshof die drukgoep Operasie Dudula die week verbied het om die identiteitsdokumente van vermeende buitelanders aan te vra, sê die organisasie hy gaan appelleer teen die beslissing. Die president van Dudula, Zandile Dabula sê hulle sal vir eers aan die hofbevel voldoen.

En tweedens word berig die lyfwagte van adjunkpresident Paul Mashatile sal steeds tereg moet staan op ‘n reeks klagtes.

# Sowetan:

Berig die rioolprobleem in Ekurhuleni het nou ‘n bedreiging vir werksgeleenthede geword aangesien sake-eienaars sê hulle kan nie verder hulle winkels oop hou onder die omstandighede nie. Die probleem sloer reeds vir twee jaar en die metroraad sê daar sal nie voor 2028 ‘n oplossing wees nie.

# En The Citizen:

Lei met: “CENTURY FOR SIYA”. Die koerant skryf Siya Kolisi word die komende naweek die negende Springbok om honderd keer uit te draf vir Suid-Afrika.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig eerstens oudpresident Jacob Zuma is verantwoordelik vir skokgolwe deur die MK-party met sy skorsing van John Hlophe as koukusleier. Hy het ook Hlophe se besluit om die hoofsweep Colleen Makhubele met Des van Rooyen te vervang, verwerp.

En tweedens skryf die koerant Eskom het nou amptelik toestemming gekry om die Eenheid 2-reaktor van die Koeberg-kernkragstasie vir nog 20 jaar te bedryf.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig die belastingbetalers van die Buffalo City-metro het hul stryd teen tariefverhogings gewen.

En tweedens skryf die koerant drie van die vier verdagtes wat in hegtenis geneem is vir die transitorooftog buite Oos-Londen het in die hof verskyn.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die KwaZulu-Natalse regering van nasionale eenheid het die National Freedom Party se eis dat premier Thami Ntuli moet bedank verwerp.

En tweedens word berig die Mzumdusi-metro moet opdok nadat ‘n lid van die publiek in ‘n oop mangat beseer is.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig funksies soos die uitreik van lasbriewe vir deursoeking en vir arrestasies, asook huwelik- en dranklisensies is weens ‘n sloerstaking deur landdroste op ys.

Dan skryf die koerant lodge-eienaars waarsku teen die ekologiese skade van ‘n drywende brug oor die Kavangorivier.

En laastens word berig Namibiërs staan bankvas agter die Namibiese rugbyspan wat môre teen België uitdraf in die kwalifiserende rondes vir die 2027 Wêreldbekertoernooi.