Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 November 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig TymeBank het goedkeuring van die Suid-Afrikaanse Reserwebank ontvang om Cheslyn Jacobs as sy nuwe uitvoerende hoof aan te stel. Jacobs volg Karl Westvig op, wat sedert 2023 die bank lei. Hy sal voortgaan om in ‘n raadgewende hoedanigheid die bank se voortgesette groei te ondersteun.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die 20-jarige Rudolf Hufke is tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis vir die moord op die 19-jarige Matie, Jesse Mitchell verlede jaar. Jesse se ma, Michèlle het na afloop van die vonnisoplegging gesê die verlies sal altyd groot bly.

Tweedens skryf die webblad oor die verlaging in brandstofpryse. Petrol daal met 51-sent en diesel met 21-sent.

En laastens word berig die Afrikaanse sanger, Brendan Peyper is voorlopig gesekwestreer. Dit staan in verband met ‘n eis van SA Conserts.

GAUTENG:

# The Star:

Vra eerstens die vraag of die RNE-beraad daarin kon slaag om die regering te verenig.

Dan skryf die koerant Gautengse ouers moet hul voorberei op ‘n styging in skoolfonds.

En laastens word berig die Stad Johannesburg moet sy informele handelaarsregistrasie binne 21 dae afhandel.

# Sowetan:

Berig die veroordeelde verkragter en moordenaar, Mphekeledi Mantsoe wat op parool vrygelaat is, het na bewering ‘n ooreenkoms met taxiverenigings om beskermgeld in Bronkhorstspruit in te samel. Die gemeenskap sê hulle word afgedreig.

# En The Citizen:

Skryf die topstruktuur by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens kos die belastingbetaler sowat 33-miljoen-rand per jaar.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig ook oor die vonnis in die Mitchell-moordsaak en die goeie nuus oor brandstofpryse.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig die Buffalo City-metro het nog 1,68-miljard-rand aan onreëlmatige uitgawes afgeskryf.

En tweedens skryf die koerant die tekortkominge by die Sentrums vir Seksuele Geweld in Oos-Londen is uitgelig.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die Hooggeregshof in Pretoria het beslis dat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika se goedkeuring van munisipale elektrisiteitstariefverhogings, wat sonder behoorlike kostestudies en openbare deelname uitgevoer is, ongrondwetlik is.

En tweedens wod berig die regering van nasionale eenheid het verklaar hy is bereid om saam te werk oor sleutelkwessies. Dit volg na ‘n beraad wat gister gehou is.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig lodge-eienaars wes van Outjo sê die D2743-grondpad wat na verskeie oorde lei, word al vir meer as ‘n dekade nie in stand gehou nie.

Dan skryf die koerant inwoners van Swakopmund het ‘n formele beswaar ingedien teen ‘n voorgestelde vyfsterhotel wat by die strandfront-fiksheidspark in Vineta beplan word.

En laastens is daar nuus oor die 90-jarige Hansie en 81-jarige Meisie Theron wat ná 60 jaar weer hul huweliksbeloftes aflê.