Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 31 Oktober 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die motorbedryf en Numsa se laaste poging om hul dooiepunt te beëindig, het misluk. Die vakbond soek ‘n loonaanbod bo inflasie, maar die motorvervaardigers sê hulle wil mededingendheid en die bewaring van poste balanseer.

# Mail & Guardian op Vrydae:

Skryf volgende jaar se verkiesingstryd in veral Johannesburg het reeds begin. Die koerant lei met “MASHABA: ZILLE DOES NOT CARE FOR BLACKS”.

# En die Netwerk24-webblad:

Lei met koning Charles se besluit om sy broer, prins Andrew, van al sy titels en eerbewyse te stroop en hom uit sy herehuis te sit. Hy sal voortaan net as Andrew Mountbatten-Windsor bekendstaan en in die ooste van Engeland hervestig. Die optrede hou verband met die Epstein-skandaal.

Dan word berig oor die moord op die 71-jarige Judie van Heerden van Frankfort in die Vrystaat. Haar liggaam is in haar woonstel in die dorp gevind en sy is oënskynlik met ‘n draad verwurg. Die polisie ondersoek die moontlikheid dat Van Heerden haar moordenaar geken het.

En laastens is daar nuus oor Floyd Brink wat weer as Johannesburg se stadsbestuurder aangestel is.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die Internasionale Pinksterheiligheidskerk wil hê die Madlanga-kommissie moet luitenant-generaal Shadrack Sibiya aanspreeklik hou vir beweerde inmenging in ondersoeke wat verband hou met die Jerusalem-faksie van die kerk se godsdienste leier, Bhekumuzi Gilbert Sandlana.

# Sowetan:

Berig die kombuispersoneel van die Sebokeng-hospitaal het begin staak nadat een van hulle kollegas ‘n elektriese skok ontvang het. Die hoofbestuurder en ander lede van die bestuurspan moes inspring om vir die pasiënte kos te maak.

# En The Citizen:

Skryf oor ‘n ponzi-skema wat onthul is waarin gemeenskappe en sakeondernemings glo miljoene rand verloor het. Die ondersoekers sê die tipe van bedrog het ‘n tendens geword waar mense hul eie gemeenskappe beroof.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig ‘n lid van die Politieke Moorde-taakspan bekend as Getuie C, het aan die Madlanga-kommissie gesê Vusimuzi “Cat” Matlala het die presidensiële veldtog van die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, befonds deur vliegkaartjies en verblyf vir die ANC-geleentheid op 8 Januarie te betaal. Hy het ook getuig 200-duisend-rand is na bewering in ‘n drom gelos vir Shadrack Sibiya.

En tweedens skryf die koerant die stapper wat vermis geraak het in die Tsitsikamma-natuurreservaat, die 74-jarige Hermie van Zyl, se liggaam is gevind. Hy is sedert 21 Oktober vermis. Die oorsaak van sy dood is nog nie vasgestel nie.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig regter Mandela Makaula van die Oos-Kaapse Hooggeregshof het verskoning gevra vir wat hy erken het neerhalende opmerkings oor regspraktisyns in Mthatha was. Hy het die opmerkings gemaak terwyl hy verlede maand deur die Regterlike Dienskommissie ondervra is.

En tweedens skryf die koerant die begin van die nuwe plantseisoen vir Oos-Kaapse boere gee nuwe hoop vir die toekoms.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf eerstens die KwaZulu-Natalse Hooggeregshof in Pietermaritzburg het beslis dat voormalige ANC-president en Nobelpryswenner vir Vrede, hoofman Albert Luthuli, deur die apartheidspolisie vermoor is, en dat verskeie regeringsdepartemente ‘n rol gespeel het om die ware oorsaak van sy dood te verbloem.

En tweedens word berig die Msunduzi-metro waarsku teen vals werksadvertensies by die metro wat die rondte doen.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Die koerant wys vandag met ‘n pienk voorblad sy steun toe aan die stryd teen borskanker.

Eerstens word berig drie gemeenskapsbewaringsgebiede het saam met ‘n toeroperateur ’n bevel van die Hoërhof verkry wat die beslaglegging toelaat van mynboukleims wat aan ‘n plaaslike prospekteerder behoort.

En tweedens skryf die koerant Suid-Afrika het sy invoerverbod op sekere Namibiese akkerbouprodukte opgehef wat oorgrenshandel in onder meer tamaties, soetrissies, komkommers, waatlemoene en pampoene herstel.