Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 28 Oktober 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die hoof van die polisie se ballistiese afdeling, brigadier Mishak Mkhabela, het aan die Madlanga-kommissie gesê dat hoewel die ballistiese kenner, wat daarvan beskuldig word dat hy inligting in die vuurwapenanaliseverslag van die moord op ingenieur Armand Swart weggelaat het, was nie sabotasie nie, maar eerder foute wat in die verslag begaan is.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig adjunkpresident Paul Mashatile sê die ANC het nie genoeg gedoen om mense se lewens te verbeter nie en die party moet erken dat hy foute gemaak het. Dit is die enigste manier vir die ANC om te verbeter.
Dan skryf die webblad die waarnemende minister van Polisie, professor Firoz Cachalia sê die beste manier om misdaad te bekamp, is om eerstens seker te maak die regte mense word in die diens aangestel.
En laastens word berig president Cyril Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die verwydering van die land van die gryslys hou positiewe gevolge in vir die ekonomie.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, word beskuldig van politieke inmenging in die Stad Johannesburg se administratiewe sake. Bronne binne die ANC beweer Mbalula het regstreekse instruksies uitgereik rakende die aanstelling van die nuwe munisipale bestuurder en ‘n rol gespeel in die vertraging van die streekkonferensie, met die doel om die uitkoms daarvan te beïnvloed.
# Sowetan:
Berig ook oor brigadier Mkhabela se getuienis. Die koerant skryf Mkhabela het getuig swak hulpbronne en ‘n tekort aan personeel lei tot foute in die forensiese verslae van die polisie se ballistiese afdeling.
# En The Citizen:
Skryf met die spanning wat oplaai tussen die EFF en die ANC oor die heraanstelling van Floyd Brink as Johannesburg se stadbestuurder, is dit ‘n ope vraag of die party die DA se mosie van wantroue in die Gautengse premier, Panyaza Lesufi gaan steun.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die dood van die 32-jarige wildveearts, dokter Alwyn Venter en sy assistent die 35-jarige Angelo Robbertse. Hulle is saam met hul vlieënier, die 23-jarige Anlo Ferreira dood toe hul helikopter naby Daniëlskuil in die Noord-Kaap neergestort het. Op die toneel lyk dit of die helikopter se lemme takke getref het.
En tweedens word berig die portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys het die departement opdrag gegee om nasionale riglyne saam te stel oor die hantering van boeliegedrag by skole.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig tradisonele leiers in die Oos-Kaap is omgekrap omdat hulle geen mediesefonds-voordele of ‘n pensioen ontvang nie.
En tweedens skryf die koerant die Buffalo City-metro gaan 79-miljoen-rand bewillig vir die rampdienssentrum in Oos-Londen.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die tenderpreneur, Hangwani Maumela, het die afslaankap Pagani Huayra ter waarde van 52-miljoen-rand aangekoop met geld uit die Tembisa-hospitaaltender.
En tweedens berig die koerant honderde betogers het buite die Homii-gebou in Joe Slovo-straat in Durban saamgedrom nadat die agtjarige Aphelele Dlamini dood is toe hy in ‘n hysbakskag afgeval het. ‘n Vrou is twee jaar gelede onder dieselfde omstandighede dood.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië se president Netumbo Nandi-Ndaitwah het die adjunk-premier en minister van Nywerheid, Natangwe Ithete, afgedank. Geen redes is aangevoer nie. Die president sal voortaan self die verantwoordelikheid van die portefeulje van Nywerheid, Mynbou en Energie oorneem.
En tweedens skryf die koerant die president het ook aangekondig ampsdraers kry voortaan net een voertuig wat op teer- en grondpaaie kan ry.