Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 27 Oktober 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die graderingsagentskap Moody’s het twyfel uitgespreek oor Eskom se vermoë om weer die kapitaalmarkte te gebruik vir befondsing in die volgende drie jaar om miljarde rand in te samel om in infrastruktuur te belê. Moody’s sê die uitvoering van Eskom se ambisies gaan nie maklik wees nie.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die ANC het die verklaring van ‘n groep Afrikaners verwelkom wat die misbruik van hul identiteit vir verregse Amerikaanse doelwitte verwerp. Die presidensiële woordvoerder Vincent Magwenya het na die ondertekenaars as compatriots verwys en gesê die res is net geraas.

Dan skryf die webblad die geliefde metereoloog en weeraanbieder, die 33-jarige Anika de Beer het haar stryd teen kanker verloor.

En laastens word berig ‘n instrukteur en student is ongedeerd nadat hulle ‘n noodlanding op die terrein van die Hoërskool Alberton aan die Oosrand uitgevoer het. Hulle het tydens die landing deur die snoepwinkel van die skool geploeg.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf ook oor die verklaring van ‘n groep vooraanstaande Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners wat ‘n onlangse stap deur die Amerikaanse regering verwerp het om wit Suid-Afrikaners vir vlugtelingstatus te prioritiseer en die onderliggende boodskap as gevaarlik en vals bestempel. Hierdie groep het wydverspreide steun gekry, insluitend ‘n sterk onderskrywing van die ANC.

# Sowetan:

Berig ‘n groep matrieks van Soweto word nou verbied om eksamen te skryf aangesien hul privaat herskryfsentrum vergeet het om hulle te registreer. Die sentrum sê hulle het stilgebly daaroor want hulle het ‘n uitbarsting op sosiale media gevrees.

# En The Citizen:

Skryf soos Netwerk24 oor die groep Afrikaners wat hulself nie kan vereenselwig met die verregse misbruik van hul identiteit in die VSA nie.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die Departement van Basiese Onderwys en AfriForum vat vandag hande in die Hooggeregshof in Pretoria om uitsluitsel te verkry oor die publikasie van die matriekuitslae. Die Inligtingsreguleerder staan die saak teen aangesien hy van mening is dit is ‘n skending van die matrieks se privaatheid.

En tweedens skryf die koerant oor die veldbrand wat in Gansbaai uitgebreek het. Brandbestryders van omliggende gebiede het kom help en ‘n ligte reëntjie wat uitgesak het, het ook bygedra om die brand onder beheer gebring.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig daar is nuwe planne om van die onderburgemeester van Nelson Mandelabaai, Gary van Niekerk ontslae te raak, selfs al wil dit voorkom of die bedrogsaak teen hom teruggetrek mag word.

En tweedens skryf die koerant die Baai is gereed vir ‘n blink feesseisoen.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf Tony Forbes sê sy seun, die oorlede rapper Kiernan “AKA” Forbes, was nie ’n moordenaar nie en het nie sy verloofde Anele Tembe vermoor nie.

En berig tweedens oor Suid-Afrika se verwydering van die gryslys.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die opknappingswerk aan die ikoniese Reho Spa duur voort, met herstelwerk aan die swembad en sommige van die braaigeriewe wat teen die tweede week van November klaar behoort te wees.

Dan skryf die koerant die Namibiese Hawe-owerheid sê planne is in plek om te sorg dat die Lüderitz- en Walvisbaai-hawens aan die huidige en toekomstige aanvraag voldoen.

En laastens word berig Swakop Uranium, wat die Husab-uraanmyn bestuur, het sy eerste wins van 562-miljoen-rand vir die 2024-boekjaar verklaar.