Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 Oktober 2025:.
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die geskorste polisieminister, Senzo Mchunu, hou steeds vol dat hy alleen die opdrag van 31 Desember opgestel en onderteken het wat die politieke moordtaakspan ontbind, en dat hy persoonlike verantwoordelikheid aanvaar vir die optrede.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die vermeende moordenaars van die 14-jarige Jayden Louw in 2023 tydens ‘n plaasaanval in Bapsfontein sal ook op poging tot moord op sy ma en boetie teregstaan. Jayden is doodgeskiet terwyl hy sy ma probeer verdedig het.
Tweedens skryf die koerant oor die swaar reën en hael wat oor Lichtenburg, Hekpoort en Skeerpoort voorgekom het. Die Weerdiens het nog waarskuwings uitgereik.
En laastens word berig president Donald Trump se reaksie op die NO KINGS-betoging waaraan duisende Amerikaners deelgeneem het, is ‘n KI-video waarin hy ontlasting oor die betogers vanuit ‘n vliegtuig uitgooi.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het Patrice Motsepe verskoning gevra vir opmerkings wat hy gemaak het oor die miljardêr se moontlike politieke ambisies vir die presidentskap van die African National Congress. Intussen het Motsepe weereens bespiegeling oor sy politieke ambisies afgelag en dit duidelik gemaak dat hy geen voorneme het om vir die presidentskap van die ANC te staan nie.
# Sowetan:
Berig die Johannesburgse Metropolisie het toegeslaan op straathandelaars wat sonder lisensies handel dryf. ‘n Liggaam wat sosio-ekonomiese regte ondersteun, sê egter die owerhede het nie voor die klopjagte met die handelaars gepraat nie.
# En The Citizen:
Skryf die onthullings deur die KwaZulu-Natalse polisiehoof Nhlanhla Mkhwanazi dui op ‘n totale ineenstorting van die land se staatsveiligheid en daar moet dringend ingegryp word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die kansellasie van die Kaapstad-marathon weens gure weer. Altesaam 24-duisend atlete sou aan die marathon deelneem. Die organiseerders sê dit sal dae neem om vas te stel wat die omvang van die finansiële verlies is. Sanlam het egter aangebied om alle atlete wat vanjaar sou deelneem se registrasiefooi vir 2026 te betaal.
En tweedens skryf die koerant die wam weer in die Wes-Kaap sal tot Woensdag voortduur.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig ‘n geskil oor die betaling van ‘n kontrakteur vertraag die voltooiing van ‘n spesiale skool ter waarde van 169-miljoen-rand in Oos-Londen.
En tweedens skryf die koerant die tweede fase van die opgradering van Marina Glen het nog nie begin nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens oor die magstryd tussen die IVP, ANC en Abantu Batho Congress in Umvoti. Die DA het ‘n beroep gedoen dat dit opgelos word, want dit het ‘n negatiewe uitwerking op dienslewering.
En tweedens word berig duisende deelnemers aan die Kaapstad-marathon is omgekrap omdat dit gekanselleer is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ondanks ‘n inligtingsveldtog oor die voorkoming van bek-en-klouseer in Namibië in September, is ongemerkte beeste en bokke begin Oktober terug aan die Namibiese kant van die Oranjerivier met owerhede wat traag reageer.
En tweedens is daar nuus oor die begrafnis van die Walvisbaaise sakeman en filantroop, John Savva.