Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 Oktober 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Suid-Afrikaanse voedselbedryf is op die vooraand van die grootste konsolidasie in meer as ‘n dekade. Dit volg nadat Premier planne aangekondig het om RFG te verkry in ‘n aandeleruiltransaksie. Die koerant skryf dit sal ‘n voedselkragbron met byna 30-miljard-rand se jaarlikse verkope skep. Dit is binne die bereik van die land se markleier, Tiger Brands, met ‘n inkomste van 37,7-miljard-rand.

# Mail & Guardian op Vrydae:

Skryf die minister van Maatskaplike Onwikkeling, Sisisi Tolashe is onder druk nadat ‘n beweerde verhouding met een van haar raadgewers aan die lig gekom het.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die Valke het ‘n beroep gedoen op enigiemand wat geld in Anthonie Bougas se Kleuterzone-groep belê het om na vore te kom en te help met die ondersoek.

Dan skryf die webblad oor die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu se getuienis voor die parlementêre ad hoc-komitee waartydens hy verantwoordelikheid aanvaar het vir die ontbinding van die polisie se taakspan oor politieke moorde. Hy sê die rede was om die fondse beter aan te wend.

En laastens word berig oor oudpresident Jacob Zuma se stryd om nie 28,9-miljoen-rand te betaal nie. Hy is in die Hooggeregshof in Pretoria voorgehou as die eintlike slagoffer. Indien die afdwingingsbevel toegestaan word, sal Zuma 60 dae hê om die koste te delg.

GAUTENG:

# The Star:

Berig ’n buurman wat in die eksklusiewe Sandton-straat woon waar Hangwani Maumela se huis verlede week deur die Spesiale Ondersoekeenheid deursoek is in verband met die Tembisa-hospitaalskandaal van twee-miljard-rand, beweer dat president Cyril Ramaphosa ’n gereelde besoeker is.

# Sowetan:

Berig ook oor Mchunu se getuienis voor die parlementêre ad hoc-komitee. Hy sê dit was onregverdig dat een taakspan al die geld kry terwyl daar ander misdaadprobleme is wat ook aandag verg.

# En The Citizen:

Skryf verkeersbeamptes sê die instelling van AARTO volgende maand maak die deur oop vir baie meer omkopery van hul kollegas. Volgens die beamptes is die puntestelsel baie ernstiger as boetes en niemand wil ’n rybewys veloor nie.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met Netwerk24 se berig oor Mchunu. Die koerant skryf hy het ontken dat hy bande met sindikate het.

En tweedens word berig oor ‘n boer van Bloemfontein, die 41-jarige Gideon Geldenhuys, wat deur ‘n swerm van meer as duisend bye getakel is toe hy ‘n nes in ‘n miershoop op ‘n land oopgeploeg het.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig die opgradering van die padnetwerk in Gonubie is vir eers gestaak totdat ‘n geskil oor die betaling van die kontrakteur opgelos is.

En tweedens skryf die koerant regter Mandela Makaula is in die spervuur nadat hy by die Regterlike Dienskommissie opgemerk het dat die regslui van Gqeberha nie vertrou kan word nie.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf daar is steeds talle onbeantwoorde vrae oor die twee vliegtuie wat in die KwaZulu-Natalse Middelland neergestort het.

En tweedens berig die koerant ook oor Mchunu se getuienis.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig chaos met die uitbetaling van maatskaplike toelaes by NamPost is ’n regstreekse gevolg van beperkte hulpbronne. Daar is net 15 voertuie landswyd vir die verspeiding van toelaes.

Dan skryf die koerant ‘n nat somerseisoen wink danksy La Niña-toestande.

En laastens word berig die foto van ‘n bruin hiëna in die verlate Kolmanskop is Wim van den Heever se wenfoto vir die 2025 Wildlewefotograaf van die Jaar.