Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 Oktober 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Suid-Afrika gaan voordeel trek uit die belegging van sowat ses-miljard-rand van die multinasionale logistieke maatskappy DHL. Die beleggings gaan volgens die koerant by die groep se drie sakebelange op die Afrika-kontinent gedoen word en die verbeteringe by Transnet het DHL oortuig om ook plaaslik betrokke te raak.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die voortslepende eis van Enzulweni Investments, wat sedert 2019 nog nie afgehandel is nie, het nou daartoe gelei dat die balju die ANC se bankrekeninge bevries het. Die bedrag verskuldig vir verkiesingsmateriaal is steeds 85-miljoen-rand.
Dan skryf die webblad hoofregter Mandisa Maya het die Gautengse premier, Panyaza Lesufi uitgetrap omdat hy voortdurend laat opdaag by sittings van die Regterlike Dienskommissie.
En laastens word berig een van die twee vliegtuie wat gister in KwaZulu-Natal vermis geraak het se wrak is wes van Howick opgespoor, die vlieënier se liggaam is ook verwyder. Die soektog na ‘n tweede vermiste vliegtuig duur vandag voort.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Appèlhof het beslis dat Standard Bank die reëls van die Nasionale Kredietwet omseil het toe hy die skikkingsooreenkomste met ‘n familietrust gebruik het om sy skuld af te dwing deur ‘n bevel te verkry dat 14 onroerende eiendomme van die trust nie afgehandel kan word nie.
# Sowetan:
Berig duisende leerders by nege skole in Tembisa en Ivory Park lei nou daagliks honger omdat die skoolvoedingsprogram opgeskort is. Die provinsiale regering erken daar is ‘n tekort aan fondse en kosverskaffers sê hulle is maande laas betaal.
# En The Citizen:
Skryf terwyl die formele dobbelbedryf besig is om agteruit te gaan, lok aanlyn dobbel met ‘n groeikoers van 44-persent jonger professionele mense wat duisende verloor met die hoop om meer te verdien.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die vermeende meesterbrein agter die Louiesenhof-moord, Zurenah Smit is deur die hof beskuldig dat sy doelbewus tegnieke gebruik om die verhoor van die saak te vertraag.
En tweedens skryf die koerant sowat 30-persent van die polisie se lugvleuel kan nie gebruik word nie. Dit sluit vliegtuie en helikopters in.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig oor ‘n familie wat drie maande moes wag om ‘n vloedslagoffer te begrawe.
En tweedens skryf die koerant daar is ‘n gemeenskap wat ‘n bestaan probeer maak onder Oos-Londen se ikoniese esplanade.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die binnegevegte in die ANC in KwaZulu-Natal duur steeds voort.
En berig die Spesiale Ondersoekeenheid het die provinsiale regering gemaan om hul samewerking te gee in ondersoeke wat uitgevoer word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Wetsontwerp op Geestesgesondheidsorg fokus op die regte van pasiënte en die pasiënte self en bevorder waardigheid, gelykheid en toeganklikheid in alle streke.
En tweedens skryf die koerant twee ervare toergidse is die helde in ‘n reddingspoging nadat ‘n toerisme-vliegtuig ‘n noodlanding in die Namib-woestyn moes uitvoer.