Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 Oktober 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die geskorste nasionale adjunkkommissaris Shadrack Sibiya het aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê die taakspan oor politieke moorde is buite sy bevel gehou, die dossiere is gesentraliseer en operasionele besluite is buite formele polisiekanale geneem. Hy het ook getuig ministeriële versoeke aan die polisiebestuur kan nie geweier word nie.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig ook oor Sibiya se getuienis. Die blad skryf Sibiya sê hy het bloot die opdragte van die kommissaris van polisie, Fannie Masemola uitgevoer met die ontbinding van die polisie se moordtaakspan. Hy sê die opdrag was van minister Senzo Mchunu afkomstig.

Dan skryf die webblad oor die gru-busongeluk in Limpopo wat die lewens van meer 40 geëis het. Volgens berigte was daar plek vir 61 passasiers, maar daar was 91 aan boord ten tyde van die ongeluk. Altesaam 30 van die oorlewendes is in ‘n kritieke toestand.

En laastens word berig Suid-Afrika het die hoop uitgespreek dat die vrede in Gaza sal lei to ‘n onafhanklike Palestynse staat wat langs Israel kan bestaan.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf verskeie noodlottige ongelukke het die afgelope paar jaar plaasgevind op die N1 naby Louis Trichardt in Limpopo, waar die jongste busongeluk meer as 40 geëis het. Die koerant berig sommige waarnemers voer aan dat verbeterde infrastruktuur en strenger toesig die tragedie kon voorkom het.

# Sowetan:

Berig ook oor die busongeluk by Louis Trichardt in Limpopo. Oorlewende passasiers sê die bestuurder was onverskillig en die bus was oorlaai. Van die slagoffers het hul families in Zimbabwe en Malawi drie jaar laas gesien.

# En The Citizen:

Lei met: “THE WAR IS OVER”. Dit was president Donald Trump se woorde aan die Israelse Parlement nadat die uitruil van gevangenes suksesvol begin verloop het.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Het dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor Sibiya wat volhou hy voer slegs opdragte uit.

En tweedens skryf die koerant oor die wedvlugduif, Salvo Rose wat 550-duisend-rand gehaal het op ‘n veiling in Bloemfontein.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig daar was net meer as 20 sterftes in polisie-aanhouding die afgelope jaar.

En skryf duisende leerders het tuis gebly as gevolg van ‘n boikot deur skoolvervoerdienste.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die uitruil van gevangenes tussen Israel en Hamas maak die pad oop vir vrede.

En tweedens is daar nuus oor leerkragte van KwaZulu-Natal wat nasionale erkenning ontvang.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig wydverspreide grondgrype in Groot Aub word deur die munisipaliteit van Windhoek as van die ergste voorvalle sedert onafhanklikwording in Namibië beskou.

Dan skryf die koerant gefrustreerde inwoners van Katutura wat vir jare uitgelewer is aan dreine wat oorloop, het emmers riool op die Windhoek-munisipaliteit se voorstoep uitgegooi.

En laastens is daar nuus oor ‘n tuin van hoop wat deur vrywilligers by die eenheid vir geestesgesondheid van die Windhoek Sentrale Hospitaal geskep is.