Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 Oktober 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig in teenstelling met wêreldwye tendense, was die lewensverwagting in Suid-Afrika in 2023 slegter as twee dekades tevore, aangesien ‘n toenemende vloedgolf van nie-oordraagbare siektes die land se deurbraak teen MIV/Vigs ondermyn het. Die lewensverwagting in die land het in 2023 tot 66,55 jaar gedaal vergeleke met 67,73 in 1990.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens ‘n 11-jarige seun van Thabazimbi het na bewering per ongeluk ‘n plaaswerker doodgeskiet toe hy besig was om tarentale te jag. Die seun en sy pa is in hegtenis geneem en sal na verwagting vandag in die hof verskyn.
Tweedens skryf die webblad die N1 naby die Ingwe Lodge in Musina was teen laat gisteraand steeds gesluit weens ‘n busongeluk vroeër. Die polisie wou geen verdere inligting oor sterftes of beseerdes bekendmaak nie. Die bus was glo onderweg na Harare.
En laastens word berig oor die begrafnis van Nathi Mthethwa in die noorde van Kwazulu-Natal.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf president Cyril Ramaphosa se woordvoerder sê ‘n video van hom buite die deftige Sandton-huis van Hangwani Maumela wys is bloot toevallig. Maumela is ‘n sentrale figuur in ‘n massiewe korrupsieskandaal wat die plundering van meer as twee-miljard-rand by die Tembisa-hospitaal behels. Ramaphosa het ontken dat hy Maumela ooit ontmoet het, wat deur ‘n vorige huwelik aan hom verwant is.
# Sowetan:
Berig kinders in Gauteng gaan gebuk onder wanvoeding ten spyte van provinsiale voedingsprogramme. Altesaam 38 kinders is in die eerste drie maande van die jaar dood. Die koerant skryf dis veral die kinders van ongedokumenteerde migrante wat die swaarste kry.
# En The Citizen:
Skryf die uitvoerende hoof van die KAL-groep, Sean Walsh sê Suid-Afrika sal ‘n handelsooreenkoms met die VSA oorleef. Hy sê volgens ‘n verslag deur die Landbousakekamer word 39-persent van ons landbouprodukte in Afrika uitgevoer en 25-persent in die EU.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu het ‘n waarborg van die polisiekommissaris, generaal Fannie Masemola geëis dat hy en die polisie sal ophou om sy naam te beswadder. Mchunu sê indien dar nie aan die eis voldoen word nie, sal hy nie huiwer om die howe te nader nie.
Dan skryf die koerant die Hemel-en-aarde-pad tussen die R-43 naby Hermanus en Caledon sal teen die middel van 2026 voltooi wees. Die roete is in hewige storms beskadig.
En laastens word berig die Nasionale Weerdiens het ‘n waarskuwing uitgereik oor wegholbrande in die Karoo.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit is in die moeilikheid nadat hy raad van sy regspan geïgnoreer het en voortgegaan het met ‘n duur uitgerekte regsgeding. Nou moet die munisipaliteit meer as 16-miljoen-rand opdok.
En tweedens skryf die koerant die 16-jarige Micah Klaasens wat deur klasmaats by die Lawson Brown High School doodgesteek is, se droom was om vir Bafana Bafana te speel.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Het vandag ‘n volledige fotobeeld en berigte oor die begrafnisdiens van Suid-Afrika se ambassadeur in Frankryk, Nathi Mthethwa. Ramaphosa het die lofrede by die Siyabonga Sangweni-sportterrein gelewer.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig volgens die Toesighoudende Owerheid vir Finansiële Instellings van Namibië se jongste jaarverslag het mediese fondse se surplus einde 2024 op 1,7-miljard-rand gestaan. Daar was ‘n groei in bates van 33,4-persent.
En tweedens skryf die koerant Namibië se FNB Eagles het geskiedenis gemaak deur Suid-Afrika se Proteas met vier paaltjies in die eerste T20-wedstryd op die nuwe FNB Namibië Krieketveld te klop.