Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 08 Oktober 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die staande komitee oor Openbare Rekeninge of Skoor het gister begin met  ‘n toesighoudende ondersoek na die Padongelukfonds. Die stap is die begin van ‘n gekonsentreerde ondersoek na bewerings van wanbestuur wat die fonds weens finansiële druk gaan noop om by Tesourie aan te klop vir fondse.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig vandag oor die opspraakwekkende Stefan Smit-moordsaak in die Hooggeregshof in Kaapstad. Een van die beskulkdigdes, Smit se weduwee, Zurenah het na bewering kort ná die moord ‘n vriend van Smit, John Houston genader en moontlike borgtoggeld van 400-duisend-rand by hom gebedel. Hy het getuig hy het toe reeds vermoed sy is betrokke by die moord.

Dan skryf die webblad luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi het aan die parlementêre ad hoc komitee gesê die misdaadsindikate wat die regstelsel geïnfiltreer het tree landswyd op en nie slegs afgesonder in sekere provinsies nie.

En laastens word berig die Israel-Premier Tech-fietsryspan het sy naam verander om van sy Israelse identiteit weg te beweeg. Dit volg nadat die span lastig geval is deur pro-Palestynse betogers.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf drie vakbonde wat mediese werkers en verpleegkundiges verteenwoordig, het strenger optrede geëis teen die sindikate, en amptenare van die Gautengse Departement van Gesondheid wat laervlakwerkers uitgebuit en betrek het by die massiewe korrupsie by Tembisa-hospitaal.

# Sowetan:

Berig die regering oorweeg ‘n voorstel om enkelbedrae in die vorm van ‘n lompsom aan ontvangers van maatskaplike noodtoelaes te betaal om entrepreneurskap aan te moedig. Sommige ekonome meen dit kan groei stimuleer.

# En The Citizen:

Skryf terwyl die Padverkeerbestuurskorporasie finansiëel sukkel, bied hulle ‘n vierdaagse padveiligheidsdebat vir tieners aan wat nagenoeg twee-miljoen-rand sal kos. Die bykans 300 tieners word in ‘n luukse Casino-oord gehuisves wat glad nie geskik is vir tieners nie.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Het dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor die Stefan Smit-moordsaak.

En tweedens skryf die koerant vir die eerste keer ooit het hernubare energiebronne wêreldwyd meer krag in die eerste helfte van die jaar opgewek as steenkool.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig drie onderwysers wie se name op die lys van seksoortreders verskyn is steeds in poste by skole.

En tweedens skryf die koerant die sukkelende Oos-Kaapse Departement van Gesondheid het 40-miljoen-rand op verkeerde betalings gemors.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf Visvin Reddy van die MK-party sê daar is geen ooreenkoms met die ANC gesluit nie.

En tweedens word berig Lee Maree van Oslo-strand in KwaZulu-Natal is veilig nadat hy vasgevang is in die ernstige storm op die Berg Everest.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig Meatco sê ’n finale verslag van ’n omvattende oudit van die ammoniakstelsel by sy Windhoek-abattoir wat volgens ‘n werknemer glo ‘n gevaar vir werkers inhou, word oor 6 tot 8 weke verwag.

Dan skryf die koerant die Landless People’s Movement beskuldig die speaker dat sy na bewering Duitsland ondersteun in ‘n regsgeding wat teenstrydig is met die amptelike onderhandelinge vir vergoeding.

En laastens is daar nuus oor die eerste swart vroue-wynmaker van Delheim wat haar nie veel steur aan ’n snobistiese siening van wyn nie.