Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 30 September 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n web van korrupsie by Tembisa-hospitaal ontdek, waarby skelm amptenare van beide die Gautengse Gesondheidsdepartement en die hospitaal betrek word. Die SOE se tussentydse verslag identifiseer ten minste drie hoofsindikate en verskeie kleiner groepe wat stelselmatig begrotings geplunder het.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die Israelse eerste minister Benjamin Netanyahu het ingestem om ‘n Amerikaanse vredesplan vir die Gazastrook te steun. Hamas het nog nie ingestem tot die plan nie. Indien beide partye die ooreenkoms ondersteun, sal die oorlog onmiddellik gestaak word.

Dan skryf die webblad oor die Madlanga-kommissie. Die hoof van misdaadintelligensie, luitenant-generaal Dumisani Khumalo, het voor die kommissie getuig ‘n sindikaat bekend as die “Groot 5” het nie net die polisie nie maar ook die politieke sfeer en regstelsel geïnfiltreer.

En laastens word berig die eerste somerreën het Sondag oor Gauteng uitgesak en nog neerslae word voorspel.

GAUTENG:

# The Star:

Berig daar is talle oproepe dat die fluitjieblaser Babita Deokaran nou postuum gehuldig moet word nadat sy die korrupsie-ondersoek by Tembisa van stapel gestuur het. Sy is in 2021 vermoor kort nadat sy die korrupsie onder die owerhede se aandag gebring het.

# Sowetan:

Gee ‘n volledige oorsig oor die vlakke van bedrog by die Tembisa-hospitaal waar nagenoeg twee-miljard-rand verduister is. Die koerant berig oor ‘n vloot luukse motors waaronder ‘n Bentley van 4,2-miljoen-rand. Daar is ook eiendomme in die Zimbali-landgoed ter waarde van 94-miljoen-rand en in Bantrybaai ter waarde van 88,5-miljoen-rand.

# En The Citizen:

Skryf ook oor die Tembisa-hospitaal. Die koerant berig die Spesiale Ondersoekeenheid sê die ondersoek is nog nie afgehandel nie en verdere bedrog en groter bedrae geld kan aan die lig kom.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met Khumalo se getuienis voor die Madlanga-kommissie.

En tweedens word berig daar is talle vrae oor twee jong bobbejane wat hul opwagting in Durban se hawe gemaak het. Die moontlikheid is dat hulle dalk van Kaapstad gesmokkel is.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig leerders in Mthatha het die strate ingevaar om te betoog oor seksuele teistering by skole.

En tweedens skryf die koerant ‘n tweede senior bestuurslid van die Buffalo City-metro is afgedank omdat hy oor die bestuur gekla het.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die Spesiale Ondersoekeenheid het weer op die moordbeskuldigde Vusimuzi “Cat” Matlala toegeslaan.

En berig oor ‘n kinderoppasser wat in hegtenis geneem is nadat sy ‘n kind ontvoer het.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die minister van Stedelike en Plattelandse Ontwikkeling, James Sankwasa, sê die Nasionale Behuisingsonderneming loop gevaar om te misluk indien dit nie drasties die lewering van huise bespoedig nie.

Dan skryf die koerant met Italiaanse betrokkenheid flikker die hoop weer vir die herlewing en uitbreiding van die Ondangwa Noordelike Looiery wat in 2001 gebou is.

En laastens is daar nuus oor die vryheidsikoon Andimba Toivo ya Toivo wat met ‘n standbeeld op Robbeneiland vereer gaan word waar hy ‘n politieke gevangene was.