Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 September 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Is die eerste van talle koerante wat berig oor president Cyril Ramaphosa se vergadering met die ANC-raadslede gister. Die koerant skryf die vergadering dui op kommer oor volgende jaar se verkiesing. Ramaphosa het vir die raadslede gesê dis óf dienslewering óf dood.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die skorsing van luitenant-generaal Shadrack Sibiya kort voor die begin van die Madlanga-kommissie en oor die MK-party se woede dat die kommissie voortgaan.
Tweedens skryf die webblad die omstrede Lilian Ngoyistraat in Johannesburg is nou vir voetgangers en verkeer oopgestel, maar die stad sê daar gaan nie straatsmouse toegelaat word nie.
En laastens word berig die moordsaak teen Sonell Joubert vir die moord op Jurgens Nel is vir eers teruggetrek. Die NVG sê hy gaan die saak verder ondersoek. Joubert is die eienaar van Tswale Educational Elephant Interactions.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Departement van Vervoer het die Nasionale Wysigingswet op Landvervoer in die Staatskoerant gepubliseer, wat e-taxi-platforms as deel van Suid-Afrika se openbare vervoerstelsel erken. Sommige van die rolspelers in die sektor kritiseer die regulasies as kortsigtig, reaktief en sonder visie.
# Sowetan:
Berig Ramaphosa se oproep aan ANC-raadslede om te gaan kyk na die DA se sukses, is skerp gekritiseer deur die raadslede. Hulle sê hy saboteer die ANC.
# En The Citizen:
Skryf ook oor Ramaphosa se boodskap aan ANC-raadslede om te gaan kyk wat die DA reg doen in Kaapstad.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor Ramaphosa se voorligtingsessie aan die ANC se raadslede landswyd waarin hy verwys het na die DA se sukses. Hy het dit duidelik gestel indien raadslede nie hulle kant bring nie, gaan koppe rol.
En tweedens skryf die koerant oor twee susters, die 24-jarige Connor en 22-jarige Cassidy Moodley wat omgekom het toe die voertuig waarin hulle gereis het se band gebars en van die pad geloop met. Die ongeluk het buite Britstown gebeur. Hul suster Storm het die ongeluk oorleef.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die burgemeester van die OR Tambo-distriksmunisipaliteit, Mesuli Ngqondwana sê hy gaan toesien dat al sy personeel gebaretaal aanleer.
En tweedens skryf die koerant ‘n taxibaas van Buffalo City is doodgeskiet toe hy ‘n vermeende koperdief wou vastrek.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar bestaan ernstige kommer oor die veiligheid van taxivervoer na skole ná verlede week se ongeluk wat drie leerders geëis het.
En berig tweedens ‘n olifantversorger, Israel Shambira is by die Hoedspruit-olifantrehabilitasie- en ontwikkelingsreservaat dood toe ‘n olifant hom vertrap het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ‘n 33-jarige man het na bewering sy twee kinders in Onanki in Omuntele vermoor. Volgens die polisie is die slagoffers ‘n vierjarige meisie en ‘n tweejarige seun.
En tweedens skryf die koerant die regering sê die aktivis, wyle advokaat Anton Lubowski, kwalifiseer nie vir oorlogveteranevoordele nie.