Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 15 September 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig Suid-Afrika se bates het verlede week herstel met die JSE wat op ‘n rekordhoogtepunt gesluit het en die rand tot sy beste vlak in byna ‘n jaar gestyg het. Die koerant skryf dit was na ‘n vlaag van korporatiewe konsolidasie in die mynbousektor en ‘n kragtige herstel in edelmetale.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig oor die dood van twee legendariese figure in fietsrykringe. Meurant Botha en JP van Zyl is beide in ‘n motorongeluk naby Calvinia in die Noord-Kaap dood. Die webblad skryf daar word allerweë aanvaar dat Meurant bergfietsry in Suid-Afrika gevestig het.

Tweedens skryf die blad ‘n bekende en gewilde polisiebeampte van Mosselbaai, adjudant-offisier Gerrit Maritz is in ‘n motorongeluk op die R-101 tussen Groot-Brakrivier en Klein-Brakrivier dood.

En laastens is daar nuus oor ‘n Pretorianer wat beroof en vasgebind in ‘n veld gelaat is. Hy is na drie dae ongedeerd opgespoor.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die besluit om Nasrec vir die komende G20-beraad te kies, eerder as Sandton, word bevraagteken weens kommer oor Nasrec se geskiktheid. Sommige sien dit as ‘n koue, industriële terrein wat ongeskik is om die land voor te stel aan wêreldleiers.

# Sowetan:

Berig Gauteng het ‘n shack-krisis. Bykans ‘n duisend informele nedersettings kom verspreid voor sonder enige dienste in onveilige gebiede. Die owerhede sê grondbesettingsindikate is verantwoordelik vir die verskaffing van onwettige huisvesting aan mense wat na Gauteng stroom.

# En The Citizen:

Skryf ontvoering in Suid-Afrika is nie meer ‘n misdaad wat slegs die elite teiken nie, enigiemand kan ontvoer word. Daar was tot dusver 437 inhegtenisnemings met sowat 28-miljoen-rand wat teruggewin is.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei ook met die dood van Meurant Botha en JP van Zyl.

En tweedens skryf die koerant oor die Vrystaatse merinoram, Maximus wat as nasionale kampioen aangewys is.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig ‘n tekort aan personeel en toerusting is die oorsaak van die krisis by die Dora Nginza-hospitaal en nie die buitelandse burgers wat daar behandel word nie.

En skryf die oudste bestaande vulstasie in Gqeberha, en een van die oudstes in die land, vier ‘n eeu en staan steeds sterk. Die Sharwoods-vulstasie aan die onderkant van Mountweg in Noordeinde is in 1925 gestig.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die geskorste minister van polisie, Senzo Mchunu sê hy sien uit daarna om voor die Madlanga-kommissie te getuig want dit gaan hom die geleentheid gee om sy naam in ere te herstel.

En tweedens skryf die koerant oor ‘n dronkbestuurder wat ‘n polisiebeampte aangeval het.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig eerstens belastingbetalersgeld word vermors deur van staatsvoertuie na slegs 120-duisend-km ontslae te raak.

En tweedens skryf die koerant die Stad Windhoek het net 30-miljoen-rand beskikbaar van die 324-miljoen-rand wat vir die herstel van slaggate bewillig is.