Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 September 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Suid-Afrika se tekort op sy lopende rekening het in die tweede kwartaal amper verdubbel en tot 82,8-miljard-rand toegeneem vanaf 47,8-miljard-rand in die eerste kwartaal. Dit word toegeskryf aan swakker uitvoere en groter betalings aan buitelandse beleggers.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf ten spyte van vele beloftes oor die verwydering van puttoilette verdrink kinders steeds in die toilette. Die koerant stel ondersoek in na wat gedoen is aan die euwel.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ActionSA is baie gelukkig met die tweede plek wat die party ingeneem het in die tussenverkiesing in wyk 7 in Soweto. Die party sê dis ‘n herlewing.
Dan skryf die webblad daar is ook plaaslik hulde gebring aan die vermoorde Amerikaanse aktivis, Charlie Kirk. Daar is kranse by die Amerikaanse ambassade in Pretoria gelê en Ernst Roets van Lex Libertas het ‘n huldeblyk gelewer.
En laastens word berig die oud-Bok en afrigter by die Northam Rhinos-rugbyklub, Bevin Fortuin is skielik op die ouderdom van 46 oorlede.
GAUTENG:
# The Star:
Vra wat kan 93-miljoen-rand per jaar vir hierdie land in die sak bring? Hierdie vraag het die week na vore gekom na ‘n mondelinge vraesessie in die Nasionale Vergadering. Daar word berig dat die adjunkministers in die RNE belastingbetalers 93,2-miljoen-rand per jaar aan salarisse kos.
En tweedens skryf die koerant die regering het ‘n beroep gedoen dat mense kalm moet bly nadat betogings in verskeie townships opgevlam het, insluitend Westbury, Coronationville, Tembisa, Tsakane en Vlakfontein. Dit gaan meestal oor watervoorsiening.
# Sowetan:
Berig Orlando Pirates is op die vooraand van geskiedenis. Die koerant skryf Mbombela sal hierdie Saterdag wemel van aktiwiteit met die 2025/26-seisoen se eerste beker-finaal, die MTN8, wat plaasvind. Dit is Pirates teen ‘n sterk Stellenbosch.
# En The Citizen:
Skryf oor die verhoor van vyf beskuldigdes in die Jagersfontein-slikdamsaak. Die koerant berig verskeie faktore soos swak bouwerk en die bewering dat die dam op die verkeerde plek gebou is om geld te spaar, kom nou aan die lig.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die MK-party se eis dat die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina moet bedank. Dit volg nadat ‘n forensiese oudit getoon het dat die lede van waterrade tot 1,7-miljoen-rand verdien om vergaderings by te woon. Dit blyk ook dat hulle in die 2023/2024-boekjaar 50-miljoen-rand in voordele soos oorsese reise ontvang het.
En tweedens skryf die koerant die maatskappy agter die gewilde Liqui Fruit-handelsmerk, Pioneer Foods, is beveel om sy langstaande handelsmerk ‘Nothing But Fruit‘ te verwyder of te wysig nadat die appèlkomitee van die Advertensiereguleringsraad beslis het dat die frase misleidend is vir verbruikers.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig daar is ‘n beduidende verbetering in die ouditverslae van Oos-Kaapse munisipaliteite.
En skryf die familie van die aktivis, Steve Biko het die heropening van die geregtelike ondersoek na sy dood verwelkom.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ‘n noodlottige ongeluk het ‘n gemeenskap in KwaZulu-Natal geruk nadat ‘n minibustaxi in ‘n kleuterskool vasgery het. Drie kinders is dood en 11 ernstig beseer. Die voorval het gisteroggend by die Senzokuhle Crèche en Primêre Skool in die Imbali Township in Pietermaritzburg gebeur.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië wil meer as 44-duisend kilogram ivoor uit regeringsvoorrade verkoop, maar Cites waarsku dat die plan risiko’s vir onwettige ivoorhandel en olifantstropery kan inhou.
En tweedens skryf die koerant drie tot vyf vervoermaatskappye is glo tans onder die vergrootglas vir hul beweerde rol in vuurwapensmokkelary vanaf Namibië na Suid-Afrika.