Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 September 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die opvolgplanne van Suid-Afrika se grootste verpakkingsgroep, Nampak, is in wanorde nadat die maatskappy se aangewese uitvoerende hoof, Andrew Hood, sy bedanking om persoonlike redes ingedien het. Die koerant skryf die groep, wat ‘n terugkeer onder leiding van Phil Roux gemaak het, het gesê hulle begin met ‘n nuwe proses om ‘n opvolger te identifiseer.

# Mail & Guardian op Vrydae:

Skryf Helen Zille is die DA se keuse vir Johannesburg. Die party se Gauteng-leier, Solly Msimanga het ontken dat daar ontevredenheid in die DA is oor die besluit.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens oor die Proteas wat daarin geslaag het om die eendagreeks teen Engeland op Lord’s te beklink. Dit het gepaard gegaan met ‘n wêreldrekord. Matthew Breetzke was die eerste kolwer wat meer as 50 lopies in elk van sy eerste vyf kolfbeurte in internasionale eendagkrieket kon aanteken.

Tweedens skryf die webblad oor die tweejarige Millé Wasserman wat in die swemband beland het en later in die hospitaal oorlede is. Die voorval het op haar ouers, Kobus en Rentia Wasserman se plaas in Bainsvlei buite Bloemfontein plaasgevind.

En laastens word berig die moordbeskuldigde van Witrivier, Marco Schalekamp het borgtog ontvang omdat die staat se saak swak is en die ondersoekbeampte volgens die hof nie objektief is nie.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die Gautengse premier en ANC-leier, Panyaza Lesufi, se onlangse standpunt word deur politieke ontleders beskou as ‘n poging om kiesers met groeiende anti-migrante-sentimente te lok, wat groepe soos Operasie Dudula weerspieël. Hierdie strategie kom terwyl die ANC se steun afneem in afwagting van die plaaslike verkiesing in 2026.

# Sowetan:

Berig onwettige taxi-staanplekke is besig om oral in Johannesburg te verskyn. Selfs in mense se opritte en in strate wat geblokkeer word. ‘n Taxivereniging sê die mense moet geduldig wees want hulle moet vervoer verskaf.

# En The Citizen:

Skryf kliënte van banke het in 2024 meer as 1,4-miljard-rand deur kunsmatige intelligensie-gedrewe bedrieëry verloor. En dis veral ouer mense. Volgens ‘n prokureur is banke egter huiwerig om uit te betaal en is meer geïnteresseerd in saaknommers.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die belastingbetaler sal sowat 100-miljoen-rand moet opdok vir die parlementêre tent terwyl die afgebrande parlementsgebou gerestoureer word. Daar is ‘n moontlikheid om die tent teen 68-miljoen-rand te koop, maar dan moet dit teen 38-miljoen-rand opgeknap word.

En skryf oor die rasseherrie by die Stellenbosch-munisipaliteit waar ‘n senior bestuurder, Alexander Kannemeyer glo uitlatings gemaak het oor hoe om van wit werknemers ontslae te raak. Die DA gaan vandag vra dat hy tydelik geskors word sodat die ondersoek na die voorval ongehinderd kan voortgaan.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig die grondeisers wat nog nie betaal is nie, het onderneem om die Menseregtekommissie te nader vir hulp.

En tweedens skryf die koerant die Buffalo City-metro tree tans op teen diegene wat verantwoordelik is vir die mislukte swembadprojek in Mdantsane.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf Suid-Afrika se werkloosheidskrisis verswak feitlik daagliks.

En berig oor ‘n afgekapte boom wat ‘n peuter net-net gemis het.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig Namibië se Korrektiewe Dienste het tans net drie-duisend-200 beamptes in diens, heelwat minder as die agt-duisend-400 wat benodig word.

En tweedens skryf die koerant Dundee Precious Metals is volgens die dorp se Sakekonsortium die ingenieurs van die sogenaamde “arseen-tydbom” in Tsumeb.