Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 03 September 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die 121 omstrede dossiere wat van die KwaZulu-Natalse politieke moordtaakspan verwyder is, sal aan die Madlanga-kommissie beskikbaar gestel word. Die koerant skryf die waarnemende polisieminister, Firoz Cachalia en nasionale polisiekommissaris, generaal Fannie Masemola, het ooreengekom dat dit die beste uitweg is.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens parlementslede is bekommerd dat hulle uitgesluit gaan word uit die G20-beraad in Johannesburg en dat slegs elites toegelaat gaan word.

Dan skryf die webblad een van die verdagtes in ‘n ontvoeringsaak in die Oos-Kaap word nou ook verbind met die moord op die staatsaanklaer van Gqeberha, Tracy Brown, maar die Valke het nie verdere besonderhede bekend gemaak nie.

En laastens word berig ‘n jong man van Stellenbosch is by ‘n gewilde kuierplek Aandklas deur ‘n groep kinders met messe aangeval en beroof.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf met ‘n voortdurende toename in transitorooftogte, sê voorstanders van ‘n kontantlose ekonomie dit sal ‘n uitweg bied. Hulle voer aan dat met minder kontanttransaksies die hoeveelheid kontant in omloop sal afneem, wat pantservoertuie minder aantreklike en winsgewende teikens vir misdadigers sal maak.

# Sowetan:

Berig oor die borgtogaansoek van die omstrede sakeman ‘Cat’ Matlala. Die staat het ‘n betaling van 100-duisend-rand aan ‘n medebeskuldigde bevraagteken. Matlala sê dit was vir mediese koste.

# En The Citizen:

Skryf die DA het president Cyril Ramaphosa se uitlatings oor die Zimbabwiese grondbesettings veroordeel. Die party sê Ramaphosa probeer die ANC se onteieningsbeleid regverdig.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig ‘n Suid-Afrikaanse sjef, die 35-jarige Sihle Somdaka, is op een van die miljardêr Richard Branson se eilande in ‘n ongeluk dood. Daar is nie verdere inligting beskikbaar nie, behalwe dat nog ‘n persoon beseer is.

En tweedens skryf die koerant oor ‘n vrou van Hazyview in Mpumalanga se stryd met ‘n woelige swart mamba in haar badkamer.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig die plaaslike taxi-organisasie gaan regstappe doen teen die Departement van Onderwys omdat hulle nie vir skolevervoer vergoed word nie.

En tweedens skryf die koerant volgens getuienis in die hof word die Lusikisiki-slagting verbind met dwelmbendes.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf Sue Forge is aangestel as die nuwe marathondirekteur van die Comrades.

En berig die inwoners van Pietermaritzburg eis dat die talle waterlekke in die stad reggemaak moet word.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Namibiese polisie het ‘n verdagte by ’n jare lange beweerde vee-smokkelkamp langs die Oranjerivier in hegtenis geneem, asook ’n daggaplant en ammunisie gevind. Daar is kommer oor die verspreiding van bek-en-klouseer.

En tweedens skryf die koerant verder oor die gru-ongeluk waarin 14 korrektiewe dienste- en polisiebeamptes dood is. Daar is vrae oor waarom die 14 beamptes in ’n vangwa van die Namibiese Korrektiewe Diens ingeprop is, terwyl ’n minibus beskikbaar was.