Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 September 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die nuwe uitvoerende hoof van Absa, Kenny Fihla, het by sy voormalige werkgewer, Standard Bank, aangeklop vir toptalent om sleutelrolle in sy bestuurspan te vul terwyl hy voorberei om die groep se nuwe groeistrategie in die volgende paar maande na die mark te bring. Absa het reeds Zaid Moola as uitvoerende hoof van korporatiewe en beleggingsbankdienste aangestel.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die burgemeester van Johannesburg, Dada Morera, het Lilian Ngoyistraat wat deur ‘n gasontploffing beskadig is, geopen nadat dit herstel is. Die werklikheid is dat die herstelwerk swak is en geen voertuigverkeer of voetgangers word in die stadium toegelaat nie.
Dan skryf die webblad oor die Valke se suksesse teen ontvoerders in Nelson Mandelabaai. Ses vedagtes verskyn tans in die hof vir die ontvoering van die 62-jarige Tracey Fourie. Sy is op 20 Augustus ontvoer en vyf dae later vrygelaat.
En laastens word berig die mynmaatskappy Glencore sê hy gaan ook mense aflê.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Johannesburgse lid van die burgemeesterskomitee vir Menslike Nedersettings, Mlungisi Mabaso van die IVP, het aangekondig dat sy departement nie Suid-Afrikaanse belastingbetalers se geld sal gebruik om informele nedersettings te bedien wat hoofsaaklik deur buitelandse burgers beset word nie.
# Sowetan:
Lei met “CHILD MURDERS – KWANELE!” Die koerant berig oor die vlaag van kindermoorde in Suid-Afrika en skryf “dis nou genoeg”.
# En The Citizen:
Skryf die ware koste van Lilian Ngoyistraat in Johannesburg word nie bereken nie. Die straat is herstel maar sakeondernemings kry geen ondersteuning nie en leweransiers weier om daar af te laai.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor Odwa Lowasa en Jonathan Sekolweni wat in ‘n botsing reg van voor op die N1 naby Worcester dood is. Hulle was op pad na Jemaine Kleinveld se verjaarsdagbraai.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n vrou van Ceres wat by Krokodilbrug in die Kruger-wildtuin deur ‘n blou-aap aan die enkel gebyt is toe sy ‘n foto van hom wou neem. Nellie Herselman sê sy wil mense net waarsku.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig volgens getuienis in die hof het die Lusikisiki-moordenaars opdrag gehad om almal uit te wis.
En tweedens skryf die koerant bende-aktiwiteite is besig om die skole in Duncan Village oor te neem.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens oor die talle lewens wat deur aanlyn dobbel verwoes word.
En tweedens is daar ‘n berig oor KwaZulu-Natal wat die Afrika-rykdomindeks gehaal het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ten spyte van verskeie studies wat die verwoestende uitwerking van die smelter in Tsumeb op die dorp se inwoners en die omgewing bevestig, word ‘n klousule steeds gebruik wat die eienaar van die myn van enige aanspreeklikheid onthef.
En tweedens skryf die koerant die Centre for People’s Resistance se beroep op die regering om stappe te doen ter ondersteuning van die beëindiging van die oorlog in Gaza val skynbaar op dowe ore.