Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 28 Augustus 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die miljardêr, Jannie Mouton het 7,2-miljard-rand op die tafel gesit om Curro te koop. Mouton het deur die Jannie Mouton-stigting, 13-rand per aandeel aangebied vir Suid-Afrika se grootste privaatskool-netwerkoperateur en voorgestel om dit in ‘n openbare voordeelorganisasie te omskep.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die regsverteenwoordiger van Zakhele Dube wat ná ‘n motorongeluk, waarin twee mense omgekom het, van strafbare manslag aangekla word, het in die Rondgaande Hof in Malelane gekla dat daar na sy kliënt as moordenaar verwys word.
Dan skryf die koerant daar is nog geen datum vasgestel vir die begin van die Madlanga-kommissie oor polisie-inmenging nie.
En laastens word berig oor die dood van die kurator van die Universiteit Stellenbosch se botaniese tuin. Die Burger berig volledig hieroor.
GAUTENG:
# The Star:
Gee ‘n volledige uiteensetting van die haatspraakbevinding teen Julius Malema.
En berig die Gautengse premier, Panyaza Lesufi het skerp gereageer op die DA se stelling dat hy niks doen om misdaad te bekamp nie.
# Sowetan:
Berig die Regspraktykraad het advokaat Arnold Mkhabela van die rol geskrap twee jaar nadat bevind is dat hy klante se uitbetalings van die Padongelukkefonds glo verduister het. Die Vereniging van Swart Prokureurs is bekommerd oor 739 soortgelyke gevalle die afgelope ses jaar.
# En The Citizen:
Skryf die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber het met die instelling van gevorderde tegnologie reeds 51-duisend ontwettige immigrante terug gestuur. Die geslaagde keuring van onwettige immigrante by grensposte het ook met 251-persent toegeneem.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die dood van die kurator van die Universiteit Stellenbosch se botaniese tuin, doktor Donovan Kirkwood. Hy het in ‘n skeur by Jonkershoek geval. Hy was saam met ‘n span besig om plantspesies te soek.
En tweedens skryf die koerant daar is kommer oor die padwerke op Vanrhynspas tydens die veldblomseisoen.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die gemeenskap is omgekrap nadat plaaslike polisiestasies se krag afgesny is omdat die rekening nie betaal is nie.
En tweedens skryf die koerant dit het in die provinsiale raad aan die lig gekom dat geen dwelmoperasies die afgelope vyf jaar in Oos-Londen uitgevoer is nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die polisie is op soek na sewe verdagtes wat in Dundee ontsnap het toe hulle van die landdroshof vervoer is.
En berig die ANC wil hê dat die regering van provinsiale eenheid in KwaZulu-Natal moet werk.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig eerstens oor die haglike omstandighede by die staatshospitaal in Katima Mulilo. Die koerant skryf daar is twee stoorkamers sonder slotte, muskietplae, ’n stukkende operasietafel en operasieligte wat nie werk nie.
En tweedens skryf die koerant Agribank eis 20-miljoen-rand of sy plaas van die voormalige raadsvoorsitter.