Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 Augustus 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die nuwe uitvoerende hoof van Absa, Kenny Fihla, werk aan ‘n strategiese plan wat daarop gemik is om die bank se pan-Afrikaanse teenwoordigheid te verdiep. Fihla, wat twee maande in die rol is, het gesê die groep het die gereedskap om tuis en op die res van die vasteland suksesvol sake te doen.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die leier van Rise Mzansi, Songezo Zibi sê die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille kan in 2029 die president van Suid-Afrika word. Hy skryf dit toe aan haar veldtog om die burgemeester van Johannesburg te word en die afwesigheid van sterk leierskap in die land.
Dan skryf die webblad die ANC het die kritiek teen die party deur twee van sy senior NUK-lede, Senzo Mchunu en Malusi Gigaba veroordeel. Beide het gesê die party is verdeeld en besig om in duie te stort.
En ten slotte word berig Kyla Blackwood-Murray, die eggenote van die vlieënier wat in die see by Duban neergestort het, weet nie hoe sy sonder haar man Andrew oor die weg sal kom nie. Sy sê die oproep wat sy oor die ongeluk ontvang het, het sy nog altyd gevrees.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Mededingingskommissie het die Konstitusionele Hof genader in nog ‘n hoofstuk van die voortslepende saga na bewerings dat die banke met mekaar saamgesweer het om die buitelandse wisselkoers met betrekking tot die Amerikaanse dollar en die rand te manipuleer.
# Sowetan:
Berig 18 mense dagvaar die staat na aanleiding van ‘n aanval deur die polisie tydens inperking. Die mense het in ‘n ry by ‘n supermark gestaan om werk te kry toe die polisie na bewering op hul losgebrand het. Een van die klaers het glo kort ná die voorval ‘n miskraam gehad.
# En The Citizen:
Skryf AfriForum het deursigtigheid bepleit ten opsigte van die Gautengse premier, Panyaza Lesufi se planne vir ‘n duur nuwe nommerplaatstelsel vir die provinsie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met Netwerk24 se storie oor Kyla Blackwood-Murray.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n Italiaanse ham van Woolworths wat glo teen 10-duisend-rand van die hand gesit is.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig ‘n oorsigtoer wat by die gesondheidsinstellings in Oos-Londen uitgevoer is, het die talle gebreke by die instansies na vore gebring.
En tweedens skryf die koerant twee sekerheidswagte is in Oos-Londen se middestad doodgeskiet tydens ‘n rooftog.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf Elon Musk se Starlink het ‘n sakevoorstel ingedien om in Suid-Afrika sake te doen.
En tweedens berig die koerant ouers het ‘n plaaslike skool gesluit omdat daar geen watervoorsiening is nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die staatshospitaal in Okahandja staar ’n ernstige krisis in die gesig aangesien byna al die noodsaaklike medisyne glo sedert Junie vanjaar uit voorraad is.
Dan skryf die koerant die pa van die eenjarige seuntjie, Amare Boois wat na bewering deur sy ma vermoor is, het in die hof getuig hoe hy haar ontmoet het.
En laastens is daar nuus oor die 15-jarige Teaghan Beresford van Swakopmund wat op ‘n opwindende Arktiese avontuur is.