Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 September 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf Standard Bank en Java Capital het kragte saamgesnoer met die oog op eiendomstransaksies. Die koerant skryf die vennootskap is daarop gemik om kapitaal vir eiendoms- en infrastruktuurgroei te ontsluit.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig twee bemanningslede van ‘n ligte vliegtuig is lig beseer toe hulle op die R-101 tussen Pretoria en Johannesburg neergestort het. Die ongeluk het naby die New-weg-kruising plaasgevind.
En tweedens skryf die webblad die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het wat hy bestempel het as ‘n “faksie in die ANC”, skerp gekritiseer oor uitsprake dat die party se verkiesingsvoorbereiding chaoties is.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook oor die vliegtuigongeluk in Midrand. Die koerant berig die vlieënier het enjinprobleme ondervind en wou ‘n noodlanding 250-meter van die aanloopbaan van die Grand Central-lughawe uitvoer toe die Cessna 172 neergestort het.
En tweedens word berig Advocates for Transformation sê daar is ‘n toenemende patroon van dreigemente en intimidasie gerig teen advokaat Sandile Khumalo, een van die kommissarisse by die Madlanga-kommissie.
# Sowetan:
Berig ook oor die dreigemente teen die regspan van die Madlanga-kommissie. Die koerant skryf naas advokaat Khumalo het advokaat Myron Dewrance ook dreigemente ontvang. Die regsgeleerdes is onder meer gedreig met seksuele geweld teen hul vrouens en geliefdes.
# En The Citizen:
Lei met: “WHAT WAS THE WIG FOR?” Die koerant skryf die voormalige speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het tydens haar bedrogsaak in die hof heftig ontken dat sy geld onder haar pruik weggesteek het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor ‘n mislukte kaping in die P2-parkade van die Kaapstadse Internasionale Lughawe. Die kaper het die vrou in haar Volkswagen Polo ingedwing en sy kon ontsnap toe hy by die uitgang deur die valhek gejaag het. Vier verdagtes is in Bonteheuwel aangekeer.
En tweedens skryf die koerant ‘n lid van ‘n vermeende bende wat straatrooftogte in Durbanville en Bellville uitgevoer het, is na bewering deur ‘n omstander geskiet voordat die bende gevlug het. Sy liggaam is later in die voertuig waarmee die bende weggejaag het in Mispelweg in Belville gevind.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n egpaar van Kwanoxolo in Nelson Mandelabaai is gevonnis vir dieremishandeling nadat ‘n strop om ‘n vyf maande oue hondjie se nek die dier ernstig beseer het. Hulle moet gemeenskapsdiens onder korrektiewe toesig doen, is gevonnis tot 12 maande gevangenisstraf opgeskort vir vyf jaar, en mag vir 10 jaar geen dier besit nie.
En tweedens skryf die koerant meer as 30 partye gaan aan die plaaslikeregeringsverkiesing in Nelson Mandelabaai deelneem.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf Pietermaritzburg se sakegemeenskap het die Msunduzi-munisipaliteit skerp gekritiseer oor die stad se verswakkende infrastruktuur, onbetroubare dienste en sekuriteitskwessies, en gewaarsku dat hierdie uitdagings beleggings en ekonomiese groei kan ondermyn.
En tweedens word berig die Protea-vrouekrieketspan gaan geskiedenis maak met hul deelname aan die eerste T20 Internasionale reeks teen Zimbabwe. Dit vind van 11 tot 19 September by die Queen’s Sports Club in Bulawayo plaas.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië het die omstrede tender van 123-miljoen-rand vir die veterinêre kordonheining vir die suidelike en suidoostelike grens amptelik gekanselleer.
En tweedens skryf die koerant die inwoners van Pionierspark het oorlog verklaar teen wat hulle as toenemende geraasbesoedeling in hul rustige woonbuurt beskryf.