Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 18 Augustus 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Departement van Minerale en Petroleumbronne sê ‘n onlangse Wes-Kaapse hofuitspraak wat die regering se magtiging vir boorwerk in die see by Mosselbaai deur TotalEnergies tersyde stel, benadeel Suid-Afrika  se mededingendheid.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens oor die graad 11-leerder, Sandra Leshabela van Polokwane, wat haar standpunt duidelik gestel het tydens die afgelope naweek se nasionale konvensie. Sy het gesê politici moet besef dis die mense wat hulle salarisse betaal en hulle moet na die mense luister. Sy was na die tyd teleurgesteld dat president Cyril Ramaphosa nie die konvensie bygewoon het nie.

En tweedens skryf die koerant die NSRI sê hulle is steeds besig om te soek na die vlieënier Andrew Blackwood-Murray wat Vrydag in die see teen Durban se kus verongeluk het terwyl hy besig was om ‘n lugtoertjie uit te voer.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf ‘n gesin in Boksburg-Noord sal moontlik tot 10 jaar moet wag vir ‘n toksikologieverslag na die dood van hul 41-jarige seun. Die gesin is in April belowe die lykskouingsverslag sal binne agt weke beskikbaar wees, maar is sedertdien van bakboord na stuurboord gestuur, sonder antwoorde.

# Sowetan:

Berig steeds oor die Maponya-taximoord in Soweto. Die koerant skryf een van die oorlewendes het steeds ‘n koeël wat uit sy kakebeen verwyder moet word. En tweedens word berig ‘n plaaslike kerk het ‘n diens op die moordtoneel gehou.

# En The Citizen:

Lei met: “NOT NATIONAL, NO DIALOGUE”. Die koerant skryf dis die slotsom van kenners oor die nasionale konvensie, veral in die lig van belangrike nasionale deelnemers wat reeds uitgesluit is.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig eerstens oor drie vissermanne wat Vrydag by Shelly Point aan die Weskus dood is toe hulle boot omgeslaan het. Die oorledenes is almal van St Helenabaai.

Dan skryf die koerant ook oor die uitgesproke Sandra Leshabela by die nasionale konvensie.

En laastens is daar nuus oor hoenderdiewe van Delmas in Mpumalanga wat 50 hoenders in die bagasiebak van ‘n BMW ingestop het voordat hulle gevlug het. Hulle is ná ‘n wilde jaagtog vasgetrek.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig die besluit oor die lot van die leerders van die David Mama Senior Secondary School wat ‘n meisie geboelie het, sal eers later bekend gemaak word.

En skryf ‘n plaaslike ma gaan die provinsiale regering vir 1,3-miljoen-rand dagvaar nadat haar baba tydens geboorte omgeruil is.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die Msunduzi-metro het die afgelope naweek ‘n suksesvolle optrede teen dronkbestuurders in Pietermaritzburg uitgevoer.

En tweedens word berig die inwoners van Henleydam gaan ‘n veiliger brug kry.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig werknemers van Namibia Wildlife Resorts sê die hoof finansiële beampte is verantwoordelik vir onder meer watertekorte en ‘n gebrek aan veiligheidstoerusting.

En tweedens skryf die koerant die politieke ontleder, professsor Henning Melber sê in sy bedanking uit Swapo hy het homself net soveel geflous as wat Swapo die mense verraai het.