Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 15 Augustus 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig oudpresident Thabo Mbeki sê die nasionale dialoog is niks meer as ‘n onetiese poging om die mense van Suid-Afrika te mislei nie. Hy sê daar gaan geen gesprek oor die land se werklike probleme plaasvind nie.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf ook oor die nasionale dialoog en hoe dit tot die ANC se voordeel gekaap is. Volgens kenners is die dialoog net nog ‘n baie duur gepratery.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die aanval op die 65-jarige Koos Wessels van die plaas Schaapkraal buite Warden. Ses aanvallers het hom aangerand en van kontant, vuurwapens en sy bakkie beroof. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Tweedens skryf die webblad president Cyril Ramaphosa sal persoonlik met die weermaghoof generaal Rudzani Maphwanya praat oor sy uitlatings in Iran. Intussen het oproepe van oral ingestroom dat die generaal afgedank moet word.
En laastens is daar nuus oor die vyf topboere in die Boer soek ‘n vrou-reeks
GAUTENG:
# The Star:
Skryf Maponya-winkelsentrum in Soweto is gedwing om te sluit na ‘n dodelike aanval Woensdagaand wat die lewe van ‘n e-taxibestuurder geëis en twee ander beseer het. Inwoners het belowe om te verhoed dat die taxi’s die staanplek binne die winkelsentrum gebruik totdat ‘n oplossing tussen die strydende partye bereik is.
# Sowetan:
Berig die vermoorde e-taxibestuurder, Mthokozisi Mvelase, het pas teruggekeer Johannesburg toe om geld te verdien om sy sieklike ma in KwaZulu-Natal te versorg. Die koerant skryf ontstoke inwoners het gister minibus-taxis in Soweto aan die brand gesteek.
# En The Citizen:
Skryf oor die reuse-sportnaweek wat op Suid-Afrika wag. Dit sluit rugby, krieket en gemengde gevegskuns met Dricus du Plessis in.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met Netwerk24 se berig oor generaal Rudzani Maphwanya.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die Buffalo City-munisipaliteit het onderneem om aandag te skenk aan die riool- en waterprobleme in die stad.
En tweedens is daar nuus oor Shrek the Musical wat op die oomblik opgevoer word in die Guild Theatre in Oos-Londen.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf adjunkpresident Paul Mashatile het ingetree om te probeer om die geskille oor die deelname aan die nasionale dialoog te beredder.
En tweedens skryf die koerant al die skootrekenaars by ‘n plaaslike polisiestasie is gesteel.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die kwessie of uitvoerende hoofde van staatsondernemings meer as die president kan verdien, is onder die loep.
Dan skryf die koerant sowat 12 jaar nadat die eerste werk aan die Konsepwet op Databeskerming begin het, sal dit na verwagting volgende maand wéér in die Parlement ter tafel gelê word.
En laastens is daar nuus oor ‘n Namibiese vrou wat die Dak van Afrika op Vrouedag bereik het.