Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 Augustus 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het homself gedistansieer van die hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag, generaal Rudzani Maphwanya, se kommentaar rakende die land se bande met Iran en sy beleid oor die VSA. Maphwanya het volgens die Iranse media gesê Pretoria en Teheran deel “gemeenskaplike doelwitte”.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens oor die opspraakwekkende kindersekssaak in Heidelberg. ‘n Prokureur word aangekla nadat hy na bewering ‘n 13-jarige meisie by haar ma gekoop het. Daar is gister getuienis aangebied oor die selfooninligting wat deur ‘n Amerikaanse kundige hanteer is.

Dan skryf die webblad die regering is teleurgesteld oor ‘n menseregteverslag wat deur die Amerikaanse regering oor Suid-Afrika uitgereik is. Die regering sê dit berus op verwronge feite wat buite konteks aangehaal word.

En laastens word berig die ANC sê hy is nie van plan om swart ekonomiese bemagtiging te laat vaar nie. Die party het kommentaar gelewer op die DA se ekonomiese plan.

GAUTENG:

# The Star:

Berig ActionSA het ‘n dringende beroep op die regering gedoen om op tree om die sowat twee-miljoen onwettige wapens uit die gemeenskap te verwyder. Daar is tans sowat 2,7-miljoen geregistreerde wapens in die land.

En tweedens skryf die koerant daar bestaan kommer oor die getuiebeskermingsprogram vir getuies in die Kiernan ‘AKA’ Forbes en Tebello ‘Tibz’ Motsoane-moordsaak.

# Sowetan:

Berig die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig dat die metropolisiebeampte wat sy vriendin vermoor het, Atlholanang Mosiane, weer verhoor gaan word. Hy is ‘n jaar na sy vorige vonnis op ‘n regstegniese punt vrygelaat.

# En The Citizen:

Skryf kenners is van mening dat die DA se besluit om weg te beweeg van rasgedrewe beleid soos SEB, die party moontlik swart stemme gaan kos.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met die regering se ongelukkigheid oor die Amerikaanse menseregteverslag.

En tweedens word berig die Landdroshof in die Paarl het die voormalige Springbok, Schalk Burger en sy seun, Christiaan, skuldig bevind en beboet omdat hulle nie belastingopgawes ingedien het nie. Dit sluit Burger se maatskappy, Welbedacht Wyne in.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig planne om Oos-Kaapse vleis regstreeks na die Verenigde Arabiese Emirate uit te voer, hang af van opgraderings by die Bisho-lughawe.

En tweedens skryf die koerant dit wil voorkom of die datum vir die ANC se Dr. WB Rubusana-verkiesingskonferensie nou uiteindelik vasgestel is.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf rou rioolvuil vloei in die Duzirivier in.

En berig die uMngeni-munisipalitiet verdedig die stygings in heffings.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig vier jaar nadat Riaan Booysen en Elizabeth Rossouw ’n geweldadige aanval in hul huis oorleef het, leef die paartjie van Swakopmund steeds in vrees en het al hul vertroue in die Namibiese regstelsel verloor.

Dan skryf die koerant meer as nege-duisend crimen injuria-sake is tussen April 2022 en April 2025 na bewering landswyd via aanlyn platforms gepleeg.

En laastens word berig meer as ‘n duisend graad 1- en graad 8-leerders in Erongo soek plek vir 2026.