Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 Augustus 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Presidensie het bevestig dat die opening van die Nasionale Dialoog op 15 en 16 Augustus sal plaasvind, wat formeel ‘n grondwetlik verpligte proses van stapel sal stuur wat daarop gemik is om ‘n nasionale ooreenkoms vir transformasie te ontwikkel. Dit volg te midde van groeiende openbare kritiek oor die befondsing van die proses.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die leier van die DA, John Steenhuisen sê die Nasionale Dialoog is ongeldig en ongeloofwaardig omdat die regering geen planne daarvoor voorlê nie en die openbare steun drasties afneem. Hy sê die dialoog is besig om in ‘n monoloog vir die ANC te ontaard.
Tweedens skryf die webblad getuienis is in die Hooggeregshof in Polokwane gelewer dat die 76-jarige Anneke Claassen wat twee jaar gelede op haar plaas by Ohrigstad vermoor is, reeds twee jaar tevore per sms-boodskap gewaarsku is oor die aanval. Clifford Mgiba staan tereg vir die moord op Anneke en haar vriend Hennie Claassen.
En laastens is daar nuus oor die Leeus wat met 29-10 teen Boland verloor het. Die Leeu-afrigter, Mzwakhe Nkosi sê sy span se vertoning was teleurstellend.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf bronne in die ANC NUK sê ‘n lid van die komitee, Andile Lungisa het tydens ‘n vergadering na bewering die onmiddellike ontbinding van die party se topleierskapstruktuur versoek het en dit daarvan beskuldig dat dit “polities bankrot” is en nie in staat is om die ANC deur sy diepste post-apartheidskrisis te lei nie. Die oproep is na bewering gemaak tydens ‘n warm gesprek oor die party se swak verkiesingsprestasie en min sukses in die regering van nasionale eenheid.
# Sowetan:
Berig die pa van ‘n moordslagoffer was geskok om sy dogter se moordenaar slegs ‘n jaar nadat hy gevonnis is, op straat op te merk. Dit blyk dat die verkeersbeampte wat sy vriendin doodgeskiet het op ‘n regstegniese punt vrygelaat is.
# En The Citizen:
Skryf oor die DA se ses-punt-plan teen swart ekonomiese bemagtiging. Die party sê die plan is gerig op werkskepping vir almal en ekonomiese groei.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor Steenhuisen se verklaring oor die Nasionale Dialoog.
En tweedens berig die koerant Ferdinand Fortuin van Mamre is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis omdat hy ‘n vals bomdreigement by sy werksplek gemaak het omdat hy nie lus was om te gaan werk nie.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig daar is groot ongelukkigheid oor die besluit van die Clarendon High School om sy roeiklub te sluit.
En tweedens skryf die koerant die plaaslike motorskou het in ‘n dronkspul ontaard.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf koning Misuzulu het aangekondig dat die jaarlikse Rietdans-seremonie van die Enyokeni-paleis na die Mashobeni-paleis verskuif.
En tweedens word berig ‘n vrou van Pietermaritzburg het 50-duisend-rand in ‘n bedrogspul verloor.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ontevrede inwoners van Walvisbaai sê die Independent Patriots for Change moet ophou om politieke speletjies te speel wanneer hulle nie die interne en eksterne vermoë het om die dorp se uitdagings te takel nie.
Tweedens skryf die koerant werknemers by droogtehulppakhuise wat as laaiers gekontrakteer is, is glo maande laas betaal.
En laastens is daar goeie nuus oor die Namibiese senior manspan in rolskaatshokkie wat sy deelname aan die Wêreldspele met ‘n bronsmedalje afgesluit het.