Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 Augustus 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig Suid-Afrika is nog nie geraak deur die Amerikaanse president Donald Trump se verreikende visumbeperkings op lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap nie. Trump sê die maatreëls is ingestel om seker te maak mense bly nie langer in Amerika as wat nodig is nie.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens die onderwyser van die Hoërskool Duineveld in Upington wat beskuldig word van sogenaame “blackface” het volgens die skool slegs deelgeneem aan die geesbou. Daar bestaan ook gerugte dat sy gesig inderwaarheid blou geverf was soos die skoolkleur.

Tweedens skryf die webblad die voorsitter van die portefeuljekomitee oor die Polisie, Ian Cameron sê koerantberigte dat die kommissaris van polisie, generaal Fannie Masemola en ander senior offisiere oor grondtransaksies in hegtenis geneem gaan word, is uiters negatief vir die polisie. Die Valke het gesê hulle dra nie kennis van so ‘n ondersoek nie.

En laastens word berig oor die loesing van 41-7 wat die Bulle Saterdag van die Pumas op Loftus Versfeld ontvang het.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf president Donald Trump word skerp gekritiseer oor wat as ‘n sogenaamde ‘derde land’-skema bekend staan om misdadigers na Afrika te stuur. Aktiviste, ontleders en menseregte-organisasies is bekommerd oor die veiligheidsgevare wat die deportasie van geharde misdadigers vir Swaziland en die Suidelike Streek kan inhou.

En tweedens word berig oudpresident Thabo Mbeki het aan die Nasionale Dialoog onttrek omdat hy glo die projek gaan te veel kos.

# Sowetan:

Berig die Tesourie het reeds op verskeie terreine kostes van die voorgestelde Nasionale Dialoog gesny. Vlugkoste word aan bande gelê, daar is ‘n plafon op verblyfbesteding en die aankoop van slimfone is gestaak.

# En The Citizen:

Skryf aanlyn-dobbel in Suid-Afrika gaan onbeheerd voort sonder dat daar enige waarskuwing oor verslawing is. Volgens die jongste syfers het dobbelverslawing in die land met 40-persent toegeneem.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig eerstens die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Mcpherson sê hy verwerp die idee dat die belastingbetaler 39-miljoen-rand moet betaal om die tent waarin die Parlement sit op te knap.

En tweedens skryf die koerant ook oor die swartgesig-onderwyser van Upington.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig daar is ‘n groot terugslag vir Nelson Mandelabaai aangesien die internasionale vraghouermaatskappy, Maersk beplan om sy bedrywighede na die VSA af te skaal.

En tweedens skryf die koerant daar is talle oproepe dat daar dringend ondersoek ingestel moet word na die polisiekorrupsie in die Baai.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die lykshuis in Howick is in ‘n haglike toestand.

En berig ‘n oudit van die salarisrekening in Msunduzi dui daarop dat ‘n hele paar dooie werkers en van diegene agter tralies steeds oortyd eis.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig buitelandse toeriste word toenemend by die Kupferberg-padblokkade afgepers.

En tweedens skryf die koerant die Namibiese polisiehoof, luitenant-generaal Joseph Shikongo, waarsku vroue teen die plasing van naakfoto’s op sosiale media aangesien dit lei tot kuberafknouery.