Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 08 Augustus 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig president Cyril Ramaphosa het telefonies met die Amerikaanse president Donald Trump gepraat. Die presidensie sê die presidente het ooreengekom tot verdere gesprekke, met erkenning aan die verskeie handelsonderhandelinge waarby die lande tans betrokke is.

# Mail & Guardian op Vrydae:

Skryf oor die druk van die minister van Finansies, Enoch Godongwana op die Johannesburgse burgemeester, Dada Morero om die stad se finansiële bestuur reg te ruk.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die onderwysorganisasie, Fedsas sê die regulasies oor die Bela-wet wat nou uitgegee is, is helder, deursigtig en regverdig. Die jongste regulasies het betrekking op leerdertoelating en die bepaling van skole se kapasiteit.

Dan skryf die webblad die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Mcpherson sê die voorval by die Onafhanklike Ontwikkelingstrust waaroor hy gister ‘n klag van omkopery by die polisie ingedien het, is nie geïsoleerd nie. Hy het die polisie gevra om hul ondersoek verder uit te brei.

En laastens is daar nuus oor kykNET se jongste uitgawe van Boer soek ‘n Vrou wat gisteraand begin het.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die #RacistBanksMustFall-beweging in Suid-Afrika het ‘n beroep gedoen op onmiddellike wetgewende ingryping na aanleiding van ‘n Amerikaanse bevel wat verhoed dat banke rekeninge sluit op grond van politieke of godsdienstige oortuigings.

En tweedens word berig die Gautengse Departement van Gesondheid is onder skoot ná onthullings dat die provinsie se openbare hospitale slegs 751 waakeenheidverpleegsters het, minder as die helfte van die een-duisend-760 wat nodig is.

# Sowetan:

Berig sekerheidswagte wat by Gauteng se gevaarlikste skole ontplooi is, word nou reeds vir maande nie betaal nie. Die Gautengse Onderwysdepartement sê die fout lê by die diensverskaffers wat foutiewe fakture indien.

# En The Citizen:

Skryf dit lyk of Suid-Afrika die stryd teen geslagsgeweld verloor. Daar word veldtog na veldtog gevoer, maar as mens môre op Vrouedag terugkyk, lyk dit asof ons die stryd verloor het.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met die voortdurende ontsteltenis oor die podsending van Open Chats waarin hulle na bewering bruin mense beledig het. Politieke partye dring nou daarop aan dat podsendings gereguleer moet word.

En tweedens is daar nuus oor ‘n springbok met rekord-horings wat nou in die Kalahari hervestig is.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig ‘n oorlewende van die Lusikisiki-slagting het in die hof getuig hoe sy vrou sy lewe gered het.

En tweedens skryf die koerant ‘n nuwe kleinkind-onderwyssentrum is by Fort Hare geopen.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf Suid-Afrikaanse onderhandelaars is besig om ‘n laaste poging aan te wend om beter tariewe vir die land te beding.

En tweedens word berig ‘n  onuithoudbare stank hang steeds in die lug in Howick.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig boere in die Helmeringhausen-omgewing is bekommerd oor hommeltuie wat toenemend sonder hul toestemming oor hul plase vlieg.

Dan skryf die koerant die Stad Windhoek het ‘n agterstand van 2,67-miljard-rand met die instandhouding van die hoofstad se paaie.

En laastens word berig meer as 90 mense, die meeste na bewering onwettig, bly in die regeringskoshuis by die Windhoek Tegniese Hoërskool