Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 Augustus 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Trump-administrasie se 30-persent-tarief op Suid-Afrikaanse goedere tree aan die einde van hierdie week in werking, met die regering wat na verwagting ‘n wye reeks maatreëls sal aankondig om sleutelsektore wat deur die heffings geraak word, te ondersteun. Die VSA het tot dusver versuim om op Suid-Afrika se handelsvoorstelle te reageer.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die sekretaris-generaal van die SAKP, Solly Mapaila het die ANC beskuldig dat die party arrogant geword het veral ten opsigte van magsdeling. Die SAKP is veral ongelukkig oor die insluiting van die DA en VF Plus by die regering van nasionale eenheid.
Tweedens skryf die webblad die ekonoom Dawie Roodt gaan weer Kilimandjaro uitklim en die keer met ‘n fiets terug ry see toe.
En laastens is daar nuus oor Bloemhof in Noordwes wat aangewys is as Kwela Dorp van die Jaar.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die EFF-leier, Julius Malema sê Donald Trump is ‘n gevaar vir die wêreld en moet onmiddellik verwyder word.
En tweedens word berig die onderbesteding van 1,3-miljard-rand het die Gautengse premier Panyaza Lesufi genoop om die hoofde van departemente te vervang.
# En Sowetan:
Berig twee vroue van Emalahleni is in die die hospitaal nadat hulle ernstige brandwonde opgedoen het. Die koerant skryf die kêrel van die 22-jarige Nompumelelo Gumede het petrol oor haar uitgegooi, in ‘n kamer toegesluit en aan die brand gesteek. Sy suster, wat Gumede tydens die aanval probeer beskerm het, is ook erg verbrand.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die 49-jarige man en sy 63-jarige suster wat Saterdagoggend op ‘n gasteplaas in Franschhoek met pangas aangeval en beroof is. Beide is ernstig beseer en die polisie is op soek na drie verdagtes.
En tweedens skryf die koerant daar was 57 voorvalle van inbraak en vandalisme by 46 skole in die Wes-Kaap gedurende die Junie/Julie-vakansietydperk. Dit is ‘n beduidende toename teenoor dieselfde tydperk in 2024, toe 45 voorvalle by 39 skole, aangemeld is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig OP-rugby is onkant betrap toe Saterdag se klubwedstryd tussen Gardens en Harlequins in Kariega op die nippertjie uitgestel is as gevolg van bende-aktiwiteite in die omgewing. Die wedstryd sou op die Derrick Ferreira-stadion, algemeen bekend as die “Die Hok”, gespeel word.
En tweedens skryf die koerant die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit het die meeste wateronderbrekings van alle metropolitaanse gebiede in 2024 aangeteken.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Berig eerstens oor die haglike toestand van die regeringsgeboue in Pietermaritzburg.
En tweedens skryf die koerant ook die Amerikaanse tariewe gaan die land hard slaan.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig handelskenners en ekonome sê die VSA se aangepaste 15-persent-tarief op Namibiese goedere sal nie die land se uitvoere noemenswaardig beïnvloed nie.
Dan skryf die koerant grondbesetters aan die kus het hul uitsetting van private grond as “barbaars” beskryf, nadat hul strukture gesloop is.
En laastens is daar nuus oor die St. George Senior Laerskoolkoor. Hulle is die eerste Namibiese primêre skoolkoor om goud in die gesogte ATKV Applous-finale te verower.