Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 01 Augustus 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die regering het skynbaar aanvaar die VSA se tarief van 30-persent is ‘n voldwonge feit en het begin om noodmaatreëls in te stel om die uitwerking teen te werk. Die koerant skryf die regering vrees die tarief gaan beleggings afskrik veral in ‘n tyd wanneer die land poog om nywerheidsproduksie te verhoog, die ekonomie te versterk en miljoene werksgeleenthede te skep.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf oor die sogenaamde meedoënlose water-mafias wat infrastruktuur saboteer en winste op water manipuleer.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens die EFF-leier, Julius Malema en die voorsitter van die portefeuljekomitee oor die Polisie, Ian Cameron is twee van die LP’s wat op die komitee gaan dien om korrupsie in die polisie te ondersoek.
Dan skryf die webblad ‘n 76-jarige fietsryer van Kaapstad, Dennis Hammar is dood nadat hy Sondag met ‘n bottel aangerand en beroof is.
En laastens word berig oor die wenner van kykNET se realiteitsprogram Die Brug.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Suid-Afrikaanse regering sê hy het verskeie alternatiewe meganismes ingestel om die voorgestelde Amerikaanse 30-persent-tarief op Suid-Afrikaanse uitvoerders voor vandag se sperdatum te voorkom.
En tweedens word berig die families van die Lily-mynslagoffers gaan moontlik nou ná nege jaar optrede sien. Die proses om die vraghouer te herwin waarin die oorledenes vasgekeer is, sal na verwagting binne die volgende twee maande begin. Dit sal nagenoeg 800-miljoen-rand kos.
# Sowetan:
Berig Nkosana Makate wat die eis teen Vodacom instel vir die regte op die Please call me-funksie, sal nou volgens ‘n beslissing van die Konstitusionele Hof moet terugkeer na die Appèlhof om sy eis af te handel. Die saak sloer reeds vir 24 jaar.
# En The Citizen:
Skryf met owerhede wat sonkrag wil belas met registrasiefooie het AfriForum gewaarsku dat geen owerheid bemagtig is om fooie te hef nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die planne wat ter elfder ure beraam word oor die Amerikaanse 30-persent-tarief wat vandag in werking tree. Die koerant skryf die Trump-regering verwag nou ‘n teenvoorstel van Suid-Afrika.
Tweedens word berig oor die 500-duisend wit Suid-Afrikaners wat die land die afgelope 25 jaar verlaat het.
En laastens is daar nuus oor die vinnigste slak se voorliefde vir bier.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die slagoffers van die oorstromings in die Oos-Kaap moet nou die gastehuise waarin hulle tydelik gehuisves is verlaat omdat huisvesting beskikbaar is.
En tweedens skryf die koerant die pasiënte by die Frere-kliniek gaan gebuk onder die chaotiese lêerstelsel by die instelling.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ‘n plaaslike hoofman, Simphiwe Zuma het in die hof in Howick verskyn in verband met die moord op die DA-raadslid, Nhlalayenza Ndlovu.
En tweedens word ook berig die sogenaamde Please call me-saak het vir eers ‘n terugslag beleef in die Konstitusionele Hof.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die samesmelting van Vivo en Engen het ernstige gevolge meegebring. Dit benadeel na bewering Namibiese werknemers en die topbestuur wat voorheen vir Engen gewerk het en plaas druk op Namibiese vulstasie-eienaars.
En tweedens skryf die koerant dit gons in Rehoboth oor verwikkelinge by Reho Spa nadat daar aangekondig is dat die gewilde ontspanningsplek in die vervolg ook as rehabilitasiesentrum gebruik gaan word.