Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 30 Julie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Suid-Afrika se handelspan is besig met ‘n laaste poging voor Vrydag se sperdatum om die streng 30-persent-tarief op uitvoere na die VSA af te weer. Die koerant skryf die onderhandelinge onder leiding van die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, en die spesiale gesant na die VSA, Mcebisi Jonas vind onder streng geheimhouding plaas.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die sluipmoordenaars wat na bewering deur ballistiese getuienis verbind word met die moorde op DJ Sumbody en Armand Swart word volgens verdere getuienis nou ook verbind met die moorde op DJ Vintos en ‘n sakeman, Don Tindleni.
Dan skryf die webblad die regterlike kommissie van ondersoek na politieke inmenging in die polisie sal die belastingbetaler sowat 147-miljoen-rand kos.
En laastens word berig die Pan-Afrika-parlement sê Afrika moet gesamentlik met president Donald Trump onderhandel aangesien die tariewe die hele vasteland benadeel.
GAUTENG:
# The Star:
Berig ook oor die beweerde sluipmoordenaars se verbintenis met ander moorde.
En skryf ‘n 25-jarige vrou van Brasillië is by die OR Tambo-lughawe vasgetrek met kokaiën ter waarde van 4,2-miljoen-rand.
# Sowetan:
Berig dit het nou reeds 52-miljoen-rand gekos en tien jaar geneem om ‘n pad van 2,8-kilometer in Emfuleni te herstel. Die taak is steeds nie afgehandel nie want die jongste kontrakteurs is deur die bou-mafia weggejaag. Emfuleni sê dit sal nog sewe-miljoen-rand kos om die projek af te handel.
# En The Citizen:
Skryf ook oor die moontlikheid dat Suid-Afrika Amerika se 30-persent-tarief wat Vrydag in werking tree, sal kan vryspring.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met ‘n gesprek wat die koerant met die omstrede diamanthandelaar, Louis Liebenberg wat steeds tralies is, gevoer het. Liebenberg sê hy gaan vir Paul Mashatile, Jacob Zuma, Juanita du Plessis en Devon Hofmeyr as getuies roep.
Dan word berig ‘n afgetrede Kaapse ma het die Lotto-boerpot van 30-miljoen-rand gewen.
En laastens is daar nuus oor ‘n kleuter wat ‘n kobra doodgebyt het …
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die abaThembu-koning Buyelekhaya Dalindyebo sê hy is nie van plan om sy aanval op president Cyril Ramaphosa en die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane terug te trek nie.
En tweedens skryf die koerant die inwoners van Oos-Londen sê dit help niks om die polisie na ure te bel nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf KwaZulu-Natal het ‘n spesiale projek van stapel gestuur om die damprook-krisis veral onder die jeug aan te spreek.
En tweedens word berig daar is steeds hoop dat die stakende vlieëniers van FlySafair ‘n salarisooreenkoms sal bereik.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig in die eerste kwartaal van 2025 het mediese fondse ’n gesamentlike surplus van 229,7-miljoen-rand gerapporteer. Dit volg terwyl pasiënte hoër bybetalings moet maak.
Tweedens skryf die koerant miljoene is reeds aan die staatsgefinansierde aftreehuis van wyle president Hage Geingob in Swakopmund bestee.
En laastens word berig Namibië is volgens die Wêreldgelukverslag vir 2025 die agtste gelukkigste land in Afrika suid van die Sahara.