Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 28 Julie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa wil druk uitoefen dat Suid-Afrika die produksie van nuwe-energie-voertuie en voertuigonderdele bespoedig. Die koerant skryf Ramaphosa sê Suid-Afrika is in die ideale posisie om battery-elektriese voertuie, hibriede wat ingeprop word en waterstofvoertuie te vervaardig.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig president Donald Trump en die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen het ‘n handelsooreenkoms gesluit waarvolgens ‘n 15-persent-tarief gehef sal word.
Dan skryf die webblad die afgetrede hoof van die Valke, luitenant-generaal Godfrey Lebeya sê die regering is reeds vir jare bewus van samespanning tussen politieke leiers en misdaadsindikate.
En laastens is daar nuus oor ‘n polisiekaptein van Protea Glen in Soweto wat sy meisie, wat ook ‘n polisielid is, en haar broer by haar verjaarsdagpartytjie doodgeskiet het waarna hy sy eie lewe geneem het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf Suid-Afrika se verhouding met die Verenigde State is op ‘n mespunt, terwyl die Amerikaanse Buitelandse Sake-komitee ‘n wetsontwerp voorstel dat sanksies ingestel word teen senior leiers van die African National Congress. Die voorgestelde VSA-Suid-Afrika Bilaterale Betrekkinge Hersieningswet van 2025 vra vir ‘n omvattende 120-dae ondersoek na Pretoria se buitelandse beleid, wat individue teiken wat teen Amerikaanse belange optree.
# Sowetan:
Berig ook oor die polisiekaptein van Soweto wat sy meisie en haar broer doodgeskiet en toe selfdood gepleeg het.
# En The Citizen:
Skryf kenners is van mening die burgermeesterskomiteelid van die Patriotic Allaiance in Johannesburg wat bedank het, Kenny Kunene, se politieke loopbaan is nie verby nie en hy gaan ‘n terugkeer maak.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig nog ‘n Suid-Afrikaanse vrou is op ‘n boot in die Bahamas aangeval. Die 28-jarige vrou is deur ‘n 35-jarige kollega met ‘n mes aangeval voordat hy selfdood gepleeg het deur van die passasierskip af te spring. Beide was werknemers van Royal Carribean en volgens die redery is die toestand van die vrou bestendig.
Dan skyf die koerant ‘n man met net een been het ‘n polisievoertuig by die Umhlali-polisiekantoor in KwaZulu-Natal gesteel. Hy is ná ‘n uur lange plesierrit aangekeer.
En laastens word berig die Weerdiens sê die sonnige weer aan die begin van die week in die Wes- en Oos-Kaap sal plek maak vir reën en stormwinde.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid het die voorsiening van warm etes vir vloedslagoffers gestaak.
En skryf ‘n tekort aan tolke veroorsaak oponthoude in Oos-Kaapse howe.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Msunduzi-munisipaliteit is besig met ‘n projek om veediefstal te bekamp.
En berig die Protea-afrigter, Shukri Conrad sê hy is tevrede met die driehoekige reeks in Zimbabwe.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig slegs sowat sewe-persent van alle verdagtes wat die afgelope dekade in Namibië vir renosterverwante misdade in hegtenis geneem is, is teen die einde van 2024 skuldig bevind. Volgens die koerant is die meeste hiervan gewoontemisdadigers wat reeds tot agt keer in hegtenis geneem is.
En tweedens skryf die koerant die ATKV Pluimpie-toekennings was ‘n glansryke geleentheid vir Afrikaans.