Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 24 Julie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Nasionale Tesourie het ‘n nuwe begrotingsmeganisme ingestel wat daarop gemik is om onderpresterende regeringsprogramme te identifiseer en te beperk sodat besteding in bedwang gebring kan word. Die koerant skryf die nuwe geteikende spaarmeganisme is gister bekendgestel.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig oor gister se aanvaarding van die Toedelingswetsontwerp. Die webblad skryf die proses is uitgerek omdat die MK-party en EFF daarop aangedring het dat daar vir elke departement se begroting afsonderlik gestem word. Die regering van nasionale eenheid het sy meerderheid gebruik om die wetsontwerp te aanvaar.

Dan skryf die blad die ma van die vermoorde Jayden-Lee Meek, Tiffany, het in haar borgtogaansoek aangevoer sy was by haar ma toe haar seun vermoor is.

En laastens word berig die mede-eienaar van die Gondwana-wildreservaat, FC Conradie is geïdentifiseer as die man wat deur olifante in die reservaat doodgetrap is.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf daar is talle vrae oor die Johannesburgse burgermeesterskomiteelid, Kenny Kunene se besoek aan die huis van die moordbeskuldigde Katiso “KT” Molefe. Niemand sê wie die joernalis was wat hy vergesel het nie en hoekom hulle agter geslote deure vergader het nie.

En tweedens word berig oudpresident Jacob Zuma se besoek aan Marokko was na bewering daarop gemik om twee skole op te rig. Een in Pretoria en die ander in Nkandla. Die skole sal op wiskunde, wetenskap en IT fokus.

# Sowetan:

Berig die ouers van die sesjarige Mmachoena Mphaka wat dood is toe hy na bewering deur ‘n dwaalkoeël getref is, sê dit lyk eerder of ‘n jaggeweer met ‘n knaldemper gebruik is.

# En The Citizen:

Skryf daar is talle vrae oor die groot bedrae wat FlySafair na bewering aan sy Ierse aandeelhouers betaal terwyl sy personeel in Suid-Afrika afgeskeep word.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met die dood van die mede-eienaar van die Gondwana-wildreservaat buite Mosselbaai, die 39-jarige FC Conradie, Die koerant berig hy was ‘n bekende in natuurbewaringskringe en ‘n gerespekteerde mentor.

En tweedens word berig FlySafair-passasiers is omgekrap omdat ander lugdienste na bewering die vlieënierstaking uitbuit deur hul pryse op te stoot noudat daar minder vlugte beskikbaar is.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig Buffalo City-raadslede en amptenare skuld meer as 21-miljoen-rand vir munisipale dienste.

En tweedens skryf die koerant die Oos-Kaapse Ontwikkelingskorporasie doen stappe teen instansies wat agterstallig is met hul huurgeld.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf ANC-leiers kan dalk eersdaags weens nuwe wetgewing persoonlike sankies deur die VSA in die gesig staar.

En berig oor dwelmklopjagte wat by skole uitgevoer word.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Development Bank of Namibia wil drie eiendomme in Windhoek laat opveil om byna 29-miljoen-rand van Enercon Namibia se agterstallige skuld te verhaal.

Dan skryf die koerant die geplunderde Nasionale Behuisingsonderneming ondervind ernstige uitdagings met kontantvloei.

En laastens is daar nuus oor die nuwe Mej. Namibië Johanna Swartbooi. Die sakevrou en voormalige skoonheidskoningin Michelle McLean sê sy is ‘n welsprekende, pragtige jong vrou.