Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 23 Julie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die DA het besluit om sy steun toe te sê aan die Begrotingswetsontwerp nadat president Cyril Ramaphosa die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, afgedank het. Die DA het vroeër gesê hy gaan sy steun onttrek aan die begrotingstoewysings van die ministeries van Hoër Onderwys en Opleiding en Menslike Nedersettings.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die polisie het ballistiese toetse gebruik om ‘n Gautengse moordbende aan verskeie prominente sluipmoorde te koppel. Die polisie verbind in die stadium die vier mans wat in die hof verskyn het, met die moord op ‘n werknemer by ‘n ingenieursmaatskappy, Armand Swart en die moord op DJ Sumbody.
Dan skryf die webblad die DA gaan nie die MK-party se mosie van wantroue in die president steun nie.
En laastens word berig die baanbreker hoofsanger van Black Sabbath, Ozzy Osbourne is op 76-jarige ouderdom oorlede.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf Ramaphosa is gedwing om toe te gee aan die DA se druk om Nkabane af te dank om die goedkeuring van die Begrotingswetsontwerp vandag te verseker. Die wetsontwerp ken befondsing toe aan elke nasionale departement.
# Sowetan:
Berig soos Netwerk24 oor die polisie se deurbraak in sy ondersoek na sluipmoordenaars wat in Gauteng aktief is. Die koerant skryf hoe die polisie te werk gegaan het in sy ondersoek.
# En The Citizen:
Skryf die MK-party in die Parlement sê daar gaan niks kom van die regterlike ondersoek na die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se inmenging in die polisie nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig soos Business Day oor die DA se besluit om die Begrotingswetsowerp en begroting van Hoër Onderwys en Opleiding te ondersteun. Willie Aucamp van die DA sê dit lyk of Ramaphosa ernstig is oor die bekamping van korrupsie.
Tweedens skryf die koerant vir die tweede keer die afgelope 16 maande het olifante ‘n man doodgetrap by die Gondwana-wildreservaat buite Mosselbaai. Die polisie ondersoek die voorval.
En laastens word berig ‘n jong Marokkaanse man wat na Spanje wou swem met ‘n paar paddavoete en ‘n binneband is uit die see gered.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig diegene betrokke by die Music in the Snow-fees eis hul geld terug nadat die geleentheid misluk het.
En skryf daar het probleme opgeduik met ‘n grondeis ter waarde van 243-miljoen-rand.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die brandweerhoof van die Msinga-munisipaliteit, Khalesakhe Mchunu, is Maandag op pad huis toe van die werk af doodgeskiet.
En tweedens word berig daar gaan ondersoek ingestel word na die tender om etes by skole te verskaf.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ouers van ‘n twee maande oue baba moes agt ure ná haar dood met private vervoer haar liggaam verwyder, omdat die ambulans by die staatshospitaal in Keetmanshoop dit nie sonder die polisie kon doen wat nooit opgedaag het nie. Daar word nou amptelik ondersoek ingestel.
Tweedens skryf die koerant die seun van een van die beskuldigdes in die Namcor-Enercon-korrupsieverhoor, Austin Elindi wil die likwidasie van Erongo Petroleum en Enercon stop.
En laastens word berig inwoners en informele handelaars in die Havana-nedersetting in Windhoek weier om grond wat vir ontwikkeling geoormerk is, te ontruim.