Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 22 Julie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa het die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, afgedank. Die stap sal moontlik die weg baan vir die goedkeuring van ‘n wetsontwerp wat staatsbesteding magtig. Dit volg ná dreigemente deur die DA om sy steun vir die departement se begroting te onttrek.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens ook oor die Nkabane-afdanking en skryf sy het die nuus oor haar afdanking op sosiale media gedeel nog voordat Ramaphosa die geleenteid gehad het om ‘n amptelike aankondiging te doen. Daar word berig die studente-organisasie COSAS het ook op haar afdanking aangedring.
Dan skryf die webblad Ramaphosa het uiteiendelik ook die omstrede Suid-Gautengse direkteur van Openbare Vervolgings, Andrew Chauke geskors. Daar is twee jaar gelede al gevra dat dit moet gebeur.
En laastens is daar nuus oor die akteur Malcolm-Jamal Warner wat die rol van Theo Huxtable in The Cosby Show vertolk het. Hy het op 54-jarige ouderdom verdrink terwyl hy saam met sy gesin vakansie gehou het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf politieke partye het hul goedkeuring uitgespreek oor die besluit om Nkabane uit haar rol as minister te verwyder. Haar adjunkminister, Buti Manamela, is in haar plek aangestel.
# Sowetan:
Berig die veroordeelde reeksmoordenaar, Rassie Nkuna gaan opnuut aangekla word vir die moord op Hillary Gardee. Hy dien reeds tronkstraf uit vir die moorde op sy meisie en haar suster en word op die oomblik verhoor vir die moord op ‘n Gautengse egpaar.
# En The Citizen:
Die burgemeester van Ekurhuleni het die elektrisiteitstarief afgeskaf nadat die inwoners betoog het. Kenners waarsku dis ‘n gevaarlike presedent wat die land se strate in chaos kan dompel.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor die Nkabane-afdanking.
En tweedens word berig die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal is in rou gedompel nadat ‘n leerder, Ruben Bezuidenhout buite Bloemfontein in ‘n motorongeluk dood is.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die bouwerk aan die Galwayweg-brug het begin.
En skryf tweedens ‘n belegging van 70-miljoen-rand in Oos-Kaapse krieket kan die provinsie se ekonomie ‘n hupstoot van 800-miljoen-rand gee.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor die landwye chaos met die staking van FlySafair se vlieëniers.
En berig die omstrede sokkerbaas, MaMkhize, sê haar enigste doel is om op te bou.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Grootfontein-ouditverslag dui op sistemiese mislukkings in finansiële verslagdoening, oordrewe saldo’s en die wydverspreide nienakoming van internasionale rekeningkundige standaarde.
Dan skryf die koerant Namibië se Divundu- korrektiewe sentrum word teen slegs 26-persent van sy kapasiteit bedryf aangesien daar net 183 beamptes aan diens is.
En laastens is daar nuus oor die 100-jarige Nella van Schalkwyk se raad aan jongmense. Sy sê werk altyd en gaan gereeld kerk toe.