Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 Julie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die instelling van die 30-persent tarief op Suid-Afrikaanse uitvoere na die VSA het die land in ‘n diplomatieke krisis gedompel. Die koerant skryf Pretoria is steeds hoopvol dat daar diplomatieke ruimte is om ‘n uitstel te beding. Amptenare waarsku dat die tariewe, wat op 1 Augustus in werking tree, die mededingendheid van die land se produkte in die Amerikaanse mark ernstig kan ondermyn.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die minister van Landbou, John Steenhuisen sê die Amerikaanse tariewe kan kastrofiese gevolge inhou vir die Suid-Afrikaanse ekonomie. Hy sê veral die sitrusbedryf kan baie swaar getref word. Steenhuisen sê as lid van die regering van nasionale eenheid sal hy saamwerk om ‘n oplossing te vind vir die tariewe.
Tweedens skryf die webblad die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane het nie gejok oor haar Seta-aanstellings nie en daar is dus geen misdaad gepleeg nie.
En laastens word berig die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie sê daar is geen rede om Israelse atlete uit die Comrades-maraton te verban nie, want soos alle ander sportbyeenkomste is dit apolities.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, word nou betrek in die polisiekorrupsieskandaal waarby die omstrede sakeman, Vusumuzi “Cat” Matlala betrokke is. Cele het na bewering in ‘n luukse dakwoonstel van Matlala gebly voordat sy maatskappy ‘n SAPD-gesondheidsdienste-tender van 360-miljoen-rand ontvang het.
# Sowetan:
Berig Trump se tariewe gaan hoofstaaklik ‘n uitwerking hê in die sitrus- en motorbedryf. Die koerant skryf dit kan tot soveel as 70-duisend gesinne benadeel. Sake-organisasies het ‘n beroep op die regering gedoen om dringend in te gryp.
# En The Citizen:
Lei met: “TARIFFS: WHAT IT MEANS TO SOUTH AFRICA”. Die koerant skryf ook dit gaan eerder oor magsvertoon as handel. Ekonome sê dit gaan die bestaan van talle gemeenskappe vernietig.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die uitwerking van die Trump-tariewe op die ekonomie en berig Steenhuisen sê dit kan landelike ekonomieë soos Citrusdal vernietig.
En tweedens skryf die koerant die Kaapstad-brandweerdiens het gewaarsku dat privaat brandweerdienste onwettig is en nie opgelei is om groot brande die hoof te bied nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig eerstens oor twee susters wat in Kariega doodgeskiet is.
En skryf tweedens die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Babalwa Lobishe, weier om haar besluit terug te trek oor die beëindiging van die ontwikkelingsagentskap se mandaat om die stad se stadion te bestuur.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar bestaan kommer oor die uitwerking van Amerika se tariewe op die ekonomie.
En berig oor ‘n kleuter wat in ‘n swembad verdrink het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namcor se voormalige besturende direkteur en twee voormalige senior beamptes is deur die Teenkorrupsiekommissie in hegtenis geneem, met nog arrestasies wat binnekort volg.
Dan skryf die koerant die gesondheidsminister Esperance Luvindao sê daar was ‘n belangebotsing met Fabupharm se verslag oor sy pynstroop wat nie as wettig aanvaar kon word nie.
En laastens word berig Ohorongo Cement en Cheetah Cement mag nie met hul voorgestelde samewerkingsooreenkoms voortgaan nie.