Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 Julie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die JSE het die voortdurende gekibbel in die regering van nasionale eenheid en president Donald Trump se tariewe afgeskud om een van sy sterkste prestasies in 20 jaar vir die eerste helfte van die jaar aan te teken. Die alle-aandele-indeks is op koers om die 100-duisend-punt-kerf vir die eerste keer in die beurs se 137-jarige bestaan te oorskry.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die borgtogaansoek van Marco Schalekamp van Witrivier wat aangekla word van onder meer die moord op Pieter Burger sal volgende week afgehandel word. Die webblad skryf die getuies in die saak sê hulle leef in vrees en Schalekamp moet nie borg ontvang nie.
Tweedens skryf die blad die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane sê diegene wat nie haar begroting steun nie verwerp transformasie. Die DA het vroeër op haar afdanking aangedring en sê hulle gaan nie haar begroting steun nie.
En laastens word berig die hoof van korpratiewe oudits en ondersoeke van Ekurhuleni, Mpho Mafole is in ‘n vermeende sluipmoord doodgeskiet.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die federale voorsitter van die DA, Helen Zille sê indien president Cyril Ramaphosa van die DA ontslae raak in die regering van nasionale eenheid, sal die rand en die land se ekononie in duie stort, beleggers onttrek en werkloosheid die hoogte inskiet.
En tweedens word berig die diplomatieke betrekkinge tussen Suid-Afrika en Botswana is onder druk oor planne om die voormalige president van Botswana Edgar Chagwa in Johannesburg te begrawe.
# Sowetan:
Berig die familie van konstabel Frances Rasuge wat in 2004 deur haar kêrel, William Nkuna vermoor is, het haar moordenaar besoek as deel van sy parool-proses. Hulle sê egter hy toon geen berou nie en het hulle met minagting behandel.
# En The Citizen:
Skryf die hoof van Pretoria High School of Girls, Phillipa Erasmus is skuldig bevind omdat sy haar man toegelaat het om die skool se tuine gratis in stand te hou. Dit volg nadat ‘n rassismeklag teen haar vroeër in duie gestort het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die blydskap van die ma van die pasgebore Mogamat Imaad Sharmar van Strandfontein wat vroeër ontvoer is. Die seuntjie is veilig tuis en die vrou wat hom ontvoer het is in hegtenis geneem.
Dan skryf die koerant oor ‘n man wat by die McDonalds-deurry-restaurant in Durbanville deur rowers oorval is. Hy is deur ‘n “hawelose man” genader wat hom toe met ‘n vuurwapen deur die gesig geslaan het.
En laastens word berig ‘n 16-jarige seun van Cornubia noord van Durban is dood toe ‘n vrou wat hy na bewering geteister het hom met ‘n vyf-liter waterbottel teen die kop gegooi het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die haglike toestande by die klinieke in Nelson Mandelabaai kan nou daartoe lei dat sommige gesluit word.
En tweedens skryf die koerant senior burgers gaan nie verder toelaat dat booswigte hulle lastig val nie. Hulle het nou sambokke en knuppels aangeskaf om hulself te beskerm.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake wil ondersoek instel na die bestuur van die Msunduzi-munisipaliteit.
En tweedens word berig verdere moontlike wateronderbrekings is Pietermaritzburg se voorland.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die verhoorafwagtende voormalige minister van Justisie, Sacky Shanghala, beskuldig die Teenkorrupsiekommissie van Namibië dat hy onwettig immuniteit teen vervolging aan die Yslandse fluitjieblaser in die Fishrot-saak, Jóhannes Stefánsson verleen het.