Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 01 Julie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die voormalige uitvoerende hoofde van Transnet, Brian Molefe en Siyabonga Gama, is op borgtog vrygelaat nadat hulle gisteroggend in hegtenis geneem is op aanklagte van bedrog en die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Die aanklagte hou verband met miljoene rand wat Transnet aan Trillian Capital Partners betaal het vir ‘n lening van 30-miljard-rand om een-duisend-64 lokomotiewe te koop.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die DA gaan vandag strafregtelike klagtes indien teen die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane. Dit staan in verband met haar beweerde misleiding van die portefeuljekomitee.

Dan skryf die webblad die pasgebore Mogamat Imaad Sharmar wat die naweek by sy ma in ‘n winkelsentrum gesteel is, is veilig teruggevind. Volgens die blad is die baba in Tafelsig gevind en die vrou wat hom geneem het is in hegtenis geneem.

En laastens word berig Lloyd Harris van Suid-Afrika het die Belg ZiZou Bergs verslaan en deurgedring na die volgende ronde by Wimbledon.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf ook oor die Transnet-saak. Die koerant berig die vervolging in die saak teen die voormalige bestuurders van Transnet sê verdere ondersoeke is aan die gang en die resultaat sal hopelik volledig bekend gemaak word wanneer die saak op 6 Oktober hervat.

En berig tweedens die EFF het gesê as die DA die regering van nasionale eenheid verlaat, sal hulle onmiddellik intree.

# Sowetan:

Berig oor ‘n ouma wat sê sy sal nooit kan vergeet hoe vyf honde die driejarige Sibongakonke Hosiyana van Germiston voor haar oë verskeur het nie. Die koerant skryf daar was vroeër reeds klagtes oor die honde.

# En The Citizen:

Skryf die regering van nasionale eenheid sal nie in duie stort nie. Die partye betrokke word deur groot sakeondernemings befonds en hulle kan nie bekostig om uit die RNE te onttrek nie.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig ook oor die vermiste Mogamat Imaad Sharmar maar die vroeë uitgawe van die koerant het nog nie die nuus dat die baba teruggevind is nie.

En tweedens skryf die koerant die Universiteit Stellenbosch het bevind dat Karoo-lam lekkerder is as voerkraalskape. Die rakbestendigheid en die voedingswaarde is ook beter.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig dit het aan die lig gekom die opgraderings ter waarde van 5,9-miljoen-rand aan ‘n sportkompleks in Krakeelrivier sluit in ‘n pawiljoen met agt rye bankies, ‘n tuinslang en ‘n baan wat uitgeverf is.

En tweedens skryf die koerant die man wat beskuldig word van die moord op die 12-jarige meisie van Nelson Mandelabaai, is nie net ‘n familielid van die oorledene nie, hy is ook ‘n predikant. Hy het gister in die Motherwell-landdroshof verskyn.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf oor ‘n tragedie ná ‘n matriekafskeid.

En tweedens berig die koerant die polisie in Mumbai het die derde keer die maand ‘n passasier op ‘n vlug van Thailand in hegtenis geneem wat lewendige slange gesmokkel het.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig ’n groep van elf privaat dokters gaan vir nagskof aanmeld by Katutura-gesondheidsentrum in Windhoek en hul dienste gratis aanbied vir pasiënte.

En tweedens skryf die koerant, die minister van Inligting en Kommunikasietegnologie, Emma Theofelus, sê Starlink se aansoek om 51-persent-eienaarskap te behou, word steeds hersien.