Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 September 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die EFF en MK-party se regspanne sê niemand is verhef bo die Parlement nie en president Cyril Ramaphosa se hersieningsaansoek van die Artikel 89-paneelverslag is net ‘n vertragingstaktiek om die ampsklagverrigtinge tersyde te stel. Hulle het in die hof aangevoer die parlementêre gesag word ondermyn.
# Mail & Guardian:
Skryf beweringe van ernstige korrupsie wat deur fluitjieblasers ontbloot is, het Transnet tot in sy fondamente geskud. Die bewerings hou verband met verkrygingsonreëlmatighede deur sommige senior bestuurders by die staatsonderneming.
# Die Papier:
Berig eerstens oor die skrum-polemiek waarby die Bokke die week betrek is. Die koerant het vandag ‘n spesiale plakkaat wat ondersteuners rugby toe kan neem. Dit lees: “SKRUM BOKKE, SKRUM!”
Dan skryf die koerant ondernemings en beleggers hou asem op om te kyk watter administrasie ná die plaaslike verkiesing Johannesburg sal oorneem. Die regeringskenner, professor Alex van den Heever, waarsku as die bestuur nie verander nie, sal baie van hulle waarskynlik hul geld elders neem.
En laastens word berig hoewel voedselinflasie tot sy laagste vlak in jare gedaal het, raap elektrisiteit, vervoer, brandstof en ander noodsaaklike uitgawes steeds ’n groter deel van huishoudings se inkomste op.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die ANC sê korrupte raadslede kan nie in koalisies wegkruip nie. Die koerant skryf die party het die Openbare Beskermer versoek om bewerings van bedrog en korrupsie teen die Tshwane-burgemeester, doktor Nasiphi Moya, te ondersoek.
En tweedens skryf die webblad die DA het aanvullende klagtes teen die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton Mckenzie, onder die aandag van die Openbare Beskermer gebring.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die huurmoordenaars, Khayelihle Shabalala en Thabo Mathonsi, is lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op die hoofsweep en DA-raadslid van uMngeni, Nhlalayenza Ndlovu. Die koerant berig die KwaZulu-Natalse Politieke Moorde-taakspan het die skuldigbevinding bestempel as ‘n groot deurbraak in die stryd teen politieke moorde in die provinsie.
# En Sowetan:
Berig Lentedag-vieringe is die nuutste gier wat handuit ruk by skole. Een dowe leerder se gehoortoestel is beskadig en die koerant skryf daar is ‘n hele string strafregtelike sake ingedien oor leerdergedrag.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het ‘n foto waarin die Suid-Afrikaanse hoë kommissaris in Indië, Anil Sooklal, saam met oudpresident Jacob Zuma en Ajay Gupta verskyn as onbenullig afgemaak. Die koerant skryf die departement hou vol daar was nie regstreekse interaksie tussen Sooklal en Gupta nie.
En tweedens berig die koerant oor die swak telefoniese kommunikasie met Landdroshowe. Die persone wat telefoonoproepe antwoord, is meestal nie Engels magtig nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Valke het hul ondersoek na die bewerings deur die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Babalwa Lobishe, gestaak en die NVG het die saak gesluit. Die koerant skryf die beweerde afpersingsklagte teen ‘n voormalige leier van die GOOD-party, Siyanda Mayana, is teruggetrek.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Transnet Nasionale Hawe-owerheid het bevestig dat ‘n vaartuig met ‘n kaai in die Durbanse hawe gebots het. Die koerant berig die vragskip is volgens Transnet na ‘n alternatiewe vasmeerplek verskuif terwyl die ondersoek na die voorval aan die gang is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Sandpiper-projek is weer in die spervuur. Die minister van Landbou, Visserye, Water en Grondhervorming, Inge Zaamwani-Kamwi, het teen die besluit om fosfaat-ontginning toe te laat, geappelleer.
Dan skryf die koerant malaria het vanjaar reeds 122 lewens in Namibië geëis.
En laastens is daar nuus oor Republikein se Bruidspaar van die Jaar.