Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 Junie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die staatsbeheerde spesiale risikoversekeraar, Sasria beplan om sy reserwes wat deur die 2021-betogings uitgewis is, teen 2029 tot 30-miljard-rand op te bou en het sy kliënte kennis gegee van ‘n gemiddelde verhoging van 25-persent in sy premies.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die vakbond Solidariteit het die VN versoek om na Suid-Afrika te reis om ondersoek in te stel na die regering se “beheptheid met raswetgewing”.

Dan skryf die webblad die Britse regering het vir die tweede keer die visum-aansoek van die EFF-leier, Julius Malema geweier. Die Britse visumkantoor sê Malema se besoek sal nie in openbare belang wees nie.

En laastens word berig Krieket Suid-Afrika het reeds in gesprek getree met verskeie lande om meer toetswedstryde te reël teen die Proteas.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf oor hoe die nuwe Johannesburgse tariewe die inwoners gaan raak. Die nuwe tariewe wat ‘n reuse-uitwerking op die meeste huishoudings sal hê, tree op 1 Julie in werking.

En tweedens berig die koerant oor die heldeontvangs vir die Proteas. Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie het by die OR Tambo-lughawe gesê Suid-Afrika is die beste sportnasie ter wêreld.

# Sowetan:

Berig die leerder wat by die Lesedi Secondary School in Tshwane doodgesteek is, was volgens berigte as gevolg van ‘n struweling oor ‘n stoel in ‘n skool waar daar te min meubels vir die leerders is.

# En The Citizen:

Skryf oor die streng optrede teen brandstofsindikate nadat tenkvoertuie in Gauteng, KwaZulu-Natal en Mpumalanga gevind is wat slegs 68-persent gevul was. Dit kos die Suid-Afrikaanse ekonomie sowat 3,6-miljard-rand.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die Wes-Kaapse Onderwysdepartement kort sowat 4,2-miljard-rand om by die 11,2-miljard-rand uit te kom om in die medium termyn die groeiende aantal leerders in die provinsie te huisves.

En tweedens skryf die koerant die drie veroordeeldes in die Joshlin Smith-saak se regspan het by die hof aansoek gedoen om appèl aan te teken teen hul skuldigbevinding.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die gemeenskap van KwaNobuhle in Kariega leef in vrees nadat die verkoolde oorskot van twee tienermeisies aan die buitewyke van die dorp gevind  is.

En tweedens skryf die koerant die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit gaan die skaarsvaardigheidstoelaag van 300 werkers skrap om 1,6-miljoen-rand te spaar.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf daar is chaos met die skryf van die halfjaar-matriekeksamen by sekere skole.

En berig die pitbull wat sy eienaar verskeur het, is vankant gemaak.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die direkteur-generaal van die Teenkorrupsiekommissie van Namibië, Paulus Noa sê hulle gaan die Medisynebeheerraad ondersoek vir ‘n beweerde medikasiediefstal- en herverkoopsindikaat in die raad.

En tweedens skryf die koerant daar bestaan kommer oor sekere toergidse se gedrag teenoor die Hoanib-leeus.