Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 18 Junie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die miljardêr Elon Musk se Starlink het aan die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau gesê hulle sal sowat vyfduisend landelike skole in Suid-Afrika op hulle netwerk verbind as deel van die voordele wat die land sal put uit Starlink se betrokkenheid.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig president Cyril Ramaphosa het by die G7-beraad in Kanada gesê daar is geen regverdiging vir die konflik tussen Israel en Iran nie. Ramaphosa het nie weer met president Donald Trump vegader nie omdat hy vroeër onttrek het om aan die konflik in die Midde-Ooste aandag te gee.
Tweedens skryf die webblad die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola sê die kabinet sal voor die einde van die jaar besluit oor die sluiting van die Israelse ambassade in Suid-Afrika.
En laastens word berig die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille het nou amptelik aansoek gedoen om in 2026 as die party se burgemeersterskandidaat in Johannesburg te staan.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die uitvoerende hoof van die Padongelukfonds, Collins Letsoalo, het gister nie in die parlement verskyn nie. Volgens die koerant is sy skorsing skynbaar gehul in ‘n magstryd van politieke inmenging en intimidasie. Dit het aan die lig gekom tydens ‘n spannende sitting van die portefeuljekomitee oor Vervoer.
En tweedens word berig met die toenemende konflik in die Midde-Ooste, neem die druk op Suid-Afrika se MTN-groep toe om sy belegging in die Iranse mobiele netwerkoperateur MTN Irancell te heroorweeg.
# Sowetan:
Berig nagenoeg 50 leerders en oudleerders van die De la Salle Holy Cross College in Johannesburg het na bewering vergader oor voorvalle van rassisme by die skool. Die skool sê hy neem die bewerings ernstig op.
# En The Citizen:
Skryf die riglyne wat die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube afgekondig het vir die toepassing van die Bela-wet word deur onderwysvakbonde verwerp.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die ongelukkigheid oor die toepassing van die Bela-wet. Die koerant berig parlementslede is omgekrap oor Gwarube se klousules oor taal en registrasie wat sy afgekondig het. Daar word beweer sy speel politieke speletjies.
Dan skryf die koerant die Amerikaanse regering het gereageer op gerugte dat ‘n Afrikaner-vlugtelinggesin gestrand is in ‘n hotel in Montana en na bewering nie selfone of geld vir kos het nie. Die regeringsverteenwoordiger, Andrew Gradison sê Afrikaner-vlugtelinge word van alle noodsaaklikhede voorsien. Dit sluit in gesondheidsorg, huisvesting en kos.
En laastens word berig groot skade is in Victoriabaai aangerig toe iemand met ‘n bakkie in die storte op die strand vasgery het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig studente van die Nelson Mandela-universiteit wat verplig is om in koshuise buite die kampus te bly, moet met haglike omstandighede tevrede wees. Daar is onder meer kakkerlak- en muisplae, geen warm water nie, hope vullis en onveilige omstandighede.
En tweedens skryf die koerant die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit gaan meer as 1,1-miljoen-rand bestee aan die herlewing van verwaarloosde munisipale sakekerns in sommige van die townships.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor die busongeluk op die R-34 naby Vryheid wat die lewens van 12 EFF-ondersteuners geëis het. Die polisie stel ondersoek in.
En tweedens word berig gewapende leerders veroorsaak verskrikking by skole.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ouers van skaakspelers wat Namibië in Kenia verteenwoordig het, is omgekrap omdat hulle ten spyte van ‘n borg, steeds vir die toer moes betaal.
Dan skryf die koerant die voorlopers in litiumontginning en -produksie in Namibië, Andrada Mining, het aangekondig dat ’n bykomende bron van tinerts verkry is.
En laastens is daar nuus oor Ester Mande se braaivleispadstalletjie in Rundu.