Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 Junie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig ‘n jaar na die instelling van die regering van nasionale eenheid pluk die land steeds die vrugte. Die aandelebeurs handhaaf steeds ‘n sterk momentum ten spyte van terugslae. Die koerant skryf die JSE se alle-aandele-indeks het gister ‘n rekordhoogtepunt van 97-duisend-94 punte bereik, nadat oor die afgelope jaar met 27,73-persent gestyg het.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die LUR vir Vervoer en Menslike Nedersettings in KwaZulu-Natal, Siboniso Duma sê die provinsie se rampbestuurspan en verkeersinspektoraat het die week gewys hulle hoef nie terug te staan nie. Die beamptes het te midde van ramptoestande hulself bewys en hoef nie terug te staan vir internasionale reddingspanne nie.

Tweedens skryf die webblad die geregtelike ondersoek na die dood van die anti-apartheidsaktivis en Nobelprys-wenner hoofman Albert Ntuli in 1967 is vir eers afgehandel. Hy is na bewering deur ’n goederetrein getref.

En laastens word berig die liggaam van ‘n onderwyser van Soweto, die 34-jarige Linda Makhubo is gevind. Hy is sedert verlede Woensdag vermis.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf president Cyril Ramaphosa het die bekendstelling van ‘n Nasionale Konvensie vir 15 Augustus aangekondig. Dit is die formele begin van ‘n omvattende Nasionale Dialoog-proses wat daarop gemik is om te herdefinieer wat dit beteken om Suid-Afrikaans te wees. Die koerant berig kritici bestempel egter die inisiatief as uit voeling, elitisties en waarskynlik slegs ‘n simboliese gebaar.

# Sowetan:

Berig oor die omvang van die verwoestende vloedskade in die Oos-Kaap waar kinderliggame uit riviere herwin word. Die koerant skryf honderde mense moes uit hul huise vlug en die probleme neem steeds toe.

# En The Citizen:

Skryf die regering van Mpumalanga huur ‘n privaat skool vir 253 gehoorgestremde leerders teen 22-miljoen-rand nadat die provinsie vir jare lank nie daarin kon slaag om ‘n nuwe skool vir 15-miljoen-rand op te rig nie.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig Kelly Smith het na bewering nuwe liefde agter tralies gevind. Hy is die 28-jarige vermeende rower, Sivuyile Heyns wat sy in aanhouding ontmoet het.

En tweedens skryf die koerant nuwe regulasies wat bepaal dat ligte vliegtuie met enjins ouer as 12 jaar nie meer lugwaardig is nie, is skerp gekritiseer. Dit sal ‘n negatiewe uitwerking op veral vliegskole hê.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die Nasionale Tesourie het die Nelson Mandelabaai-begroting vir 2025/2026 as onvolhoubaar bestempel en gewaarsku dat die gelykbreekpuntbenadering, tesame met ‘n bedryfstekort van 1,3-miljard-rand, die metro se reserwes sal uitput en dienslewering lamlê.

En tweedens skryf die koerant Hive Hydrogen SA se hernubare energie-installasie sal die maatskappy se groen ammoniakprojek wat in Coega ontwikkel word, aandryf.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf eerstens oor die verspreiding van ‘n nuwe variant van Covid-19 in Asiatiese lande.

En berig oor die skuldlas waaronder Eskom gebuk gaan.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig daar bestaan kommer oor swak opgeleide verpleegstudente wat onvoldoende gemonitor word en op hul eie in oorvol hospitale gelos word. Dit beteken die veiligheid van pasiënte word onvermydelik in die gedrang gebring.

En tweedens skryf die koerant die uitvoerende direkteur van Gesondheid en Maatskaplike Dienste, Penda Ithindi sê die Namibiese Inkomste-agentskap het beslag gelê op ‘n hele besending ongeregistreerde, onwettige malariamedikasie.