Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 Junie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe het gister in die Johannesburgse Hooggeregshof aansoek gedoen dat ‘n deel van regter Raymond Zondo se staatskapingsverslag geskrap moet word. Die verslag beveel aan dat hy vir korrupsie ondersoek moet word.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie het ‘n projek bekend gestel waarvolgens die oorskot van vryheidsvegters en San- en Khoi-helde teruggebring word na Suid-Afrika. McKenzie sê daar kan nie ‘n prys gepaal word op die aksie nie.

Dan skryf die webblad die nuus dat die federale voorsitter van die DA, Helen Zille dalk as burgemeesterskandidaat in Johannesburg sal staan, het wye reaksie uitgelok. Zille sê sy het self nog nie eens besluit nie.

En laastens is daar nuus oor die bekende Britse skrywer, Frederick Forsyth wat gister op 86-jarige ouderdom oorlede is.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf die Suid-Afrikaanse Reserwebank stel ondersoek in na Nthabeleng Likotsi en haar bank, YWBN Mutual Bank, oor bewerings dat sy moontlik valse of misleidende inligting tydens die bank se aansoekproses verskaf het. Die stap volg op ‘n uitval met die beleggingsfirma AFRIBIZ Financial Services, en kan lei tot ernstige regsgevolge vir Likotsi.

# Sowetan:

Berig die minister van Landbou, John Steenhuisen het gewaarsku teen die handel in lewende hawe sodat die verspreiding van bek-en-klouseer gestuit kan word. Die koerant skryf volgens Steenhuisen gaan Suid-Afrika 72-miljoen-rand se entstof van Botswana aankoop.

# En The Citizen:

Skryf kinders word nie beveilig teen giftige kos nie aangesien die regering skynbaar sy belofte vergeet het om 500 voedselinspekteurs aan te stel.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met die Comrades-atleet, Moira Harding wat opgespoor is nadat sy kort na voltooiing van die marathon verdwyn het. Sy is ses kilometer van die eindpunt in Durban se industriële gebied gevind en is nou in die hospitaal. Volgens die familie het sy skynbaar gedisoriënteer geraak na die wedloop.

Tweedens word berig die omstrede diamanthandelaar, Louis Liebenberg is finaal gesekwestreer in die Hooggeregshof in Pretoria.

En laastens skryf die koerant die ouers van die 14-jarige Malcolm Booysen van Brakpan wat deur ‘n 12-jarige doodgery is, sê hulle het die kind vergewe. Die 12-jarige het gister in die Brakpan-landdroshof verskyn.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig Suid-Afrika se voormalige ambassadeur in Japan, Smuts Ngonyama, het ‘n beroep op die regering gedoen om dringend in te gryp om die sluiting van Goodyear SA se Kariega-aanleg te voorkom.

En tweedens skryf die koerant oor ‘n vyfjarige seuntjie wat die naweek in Gqeberha verdrink het.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf ook oor die vermiste Comrades-atleet, Moira Harding wat opgespoor is en in die hospitaal opgeneem is.

En tweedens word berig die voorkoms van bek-en-klouseer is besig om te versprei.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Namibiese eerste minister Elijah Ngurare sê die nuwe administrasie wil verseker dat alle Namibiërs bevoordeel word uit die land se hulpbronne.

En tweedens skryf die koerant Namibiërs bibber van die koue en nog ryp word voorspel, behalwe in die verre Noorde.