Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 Junie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Statistiek SA, wat belangrike statistiek oor ekonomiese groei, indiensneming en bevolking verskaf, benewens ‘n menigte ander sleuteldata wat noodsaaklik is vir regeringsbeplanning, het ongeveer 720 vakante poste en ‘n vakaturekoers van 21,8-persent. Die toedrag van sake word as ‘n ramp bestempel.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole sê sedert 2009 is daar slegs een onderwyser vir elke 175 ekstra leerders aangestel. Daar is tans sowat 29-duisend vakatures by openbare skole in die land.
Dan skryf die webblad die rampbestuurspanne in die Vrystaat is op gereedheidsgrondslag vir die sneeuneerslae wat moontlik vandag en môre in die provinsie kan voorkom.
En laastens word berig Sanlam skryf die skerp styging in kankersterftes toe aan die gebrek aan voorkomende ondersoeke en toetse tydens die pandemie.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf spanning tussen die Zambiese regering en die familie en ondersteuners van die wyle voormalige president Edgar Chagwa Lungu het in ‘n volskaalse krisis ontaard. President Hakainde Hichilema word beskuldig dat hy die Lungu-familie en die Patriotiese Front doelbewus van begrafnisreëlings uitsluit. Lungu is in die Mediclinic Medforum-hospitaal in Pretoria oorlede, na bewering weens borskomplikasies. Hy was vir etlike weke onder spesialissorg.
# Sowetan:
Berig oor die dood van die 14-jarige Malcolm Booysens van Brakpan toe ‘n 12-jarige na bewering sy ouers se voertuig sonder hul toestemming gevat het en kort daarna beheer daaroor verloor het. Booysens wat langs die pad gestaan het, is op die toneel dood.
# En The Citizen:
Skryf die moontlikheid dat die DA se federale voorsitter, Helen Zille haarself beskikbaar stel as die party se Johannesburgse burgemeesterskandidaat is nie so vergesog nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die oorwinnings van Tete Dijana en Gerda Steyn in gister se Comrades-marathon. Dit was Steyn se vierde oorwinning.
Dan word berig oor die eerste Comrades van die viermalige Olimpiese marathon-atleet, Irvette van Zyl.
En laastens skryf die koerant dit kan tot sewe maande neem om die agterstallige uitreiking van rybewyse in te haal.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig met meer as 18-miljard-rand aan hom verskuldig, wil die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit 88-miljoen-rand van Africorp se munisipale rekening en 32,5-miljoen-rand van Precision Properties se rekening afskryf.
En tweedens skryf die koerant ‘n prokureur wat op haar eie praktiseer het die handelsbeperkingsklousule teen haar deur ‘n groot firma van Gqeberha suksesvol in die hof afgeweer.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Msunduzi-munisipaliteit gee tans aandag aan die talle vakatures en probeer dit so gou as moontlik vul.
En tweedens word berig die plaaslike lugskou is goed op dreef.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig meer as 220 skole waarvan die meeste in droogtegeteisterde streke is, het vanjaar nog geen hulp van die Namibiese Skoolvoedingsprogram ontvang nie.
Dan skryf die koerant die Mynwerkersunie van Namibië sê hy het nog geen amptelike kennisgewing van afleggings by die Tsumeb-smelter ontvang nie.
En laastens is daar nuus oor die wenners van Republikein se gewilde Bruidspaar van die Jaar-kompetisie.