Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 Junie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die parlementêre komitee oor Finansies het die Nasionale Tesourie versoek om die uitbreiding van die BTW-nulkoersmandjie en sy benadering tot belastingvoorstelle, te oorweeg om lae- en middelinkomstehuishoudings te beskerm. Die koerant skryf die aanbevelings is ingesluit in die verslag oor die fiskale raamwerk en inkomstevoorstelle.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die Health Funders Association het nou ook ‘n hofsaak aanhangig gemaak teen die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering. Die organisasie voer aan die NGV gaan die land 941-miljard-rand kos. Dit is die sesde hofsaak teen die wet.

Tweedens skryf die webblad adjunkpresident Paul Mashatile en sy vrou se besoek aan Japan het die belastingbetaler 1,3-miljoen-rand gekos.

En laastens word berig die beskuldigde wat na bewering die 35-jarige Nicci Janse van Rensburg in Oktober 2022 op sy plaas naby Roedtan in Limpopo tereggestel het, is in die hof uitgewys.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf die gemeenskap van die Zamimpilo- informele nedersetting naby Riverlea, suid van Johannesburg, sê die gebied het in ‘n oorlogsone ontaard. Dit volg nadat ‘n skietgeveg tussen onwettige mynwerkers, lede van die gemeenskap en die polisie tot die dood van die 59-jarige Jerome Lottering, gelei het.

# Sowetan:

Berig die Spesiale Ondersoekeenheid gaan ‘n eiendom van die direkteur van die Southern African Youth Movement, Alfred Sigudhla bevries. Die eiendom is na bewering met Lotto-geld van 36-miljoen-rand wat vir gemeenskapsprojekte aangewend moes word, gekoop.

# En The Citizen:

Skryf gesondheidsorginstellings word toenemend geteiken deur misdadigers. Daar het in die afgelope tyd gewapende rooftogte en verkragtings voorgekom en in een voorval is ‘n verpleegster doodgeskiet. Vakbonde eis nou dat hospitale beter beskerm moet word.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig oor die moord op die 73-jarige Karl Lauks van Tulbagh. Sy liggaam is in die oprit van sy huis aangetref. Volgens vriende was Lauks die afgelope maande die teiken van verskeie rooftogte. Die koerant skryf die 29-jarige Steven Witbooi is in verband met die moord in hegtenis geneem en het reeds in die hof verskyn.

Tweedens skryf die koerant internasionale rolprentproduksies bring jaarliks sowat vyf-miljard-rand na Suid-Afrika.

En laastens word berig Zimbabwe wil tientalle olifante uitdun en die vleis aan arm gemeenskappe gee om te eet.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig met Nelson Mandelabaai wat voorberei om vandag sy munisipale begroting ter tafel te lê, is daar spanning oor die groot verskille in kapitaalprojektoewysings tussen wyke.

En tweedens skryf die koerant volgens ‘n verslag wat in die Vanessa van Rensburg-moordsaak ingedien is, het sy 23 beserings aan haar liggaam gehad. Die koerant berig dit is ‘n aanduiding dat sy wreed aangerand is en gewelddadig dood is.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die SAKP is van plan om sy allianse met die ANC in KwaZulu-Natal te beëindig.

En tweedens word berig die MK-party is vas van plan om die Grondwet te wysig.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig Namibiërs wie se ouers in die buiteland gebore is, sukkel al hoe meer om hul Namibiese paspoorte te hernu. Dié Namibiërs moet aan die ministerie van Binnelandse Sake, Immigrasie, Veiligheid en Sekuriteit die immigrasiestatus van hul ouers ten tyde van hul geboorte bewys.

En tweedens skryf die koerant oor betogings teen geslagsgeweld in Windhoek.