Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 Junie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Wes-Kaapse Hooggeregshof het die EFF se dringende aansoek vir die opskorting van die brandstofheffingverhoging wat vandag in werking tree, van die hand gewys. Dit stel die minister van Finansies, Enoch Godongwana in staat om 3,5-miljard-rand in te samel.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig Floyd Shivambu is afgedank as sekretaris-generaal van die MK-party. Hy sal nou as parlementslid herontplooi word. Die besluit staan in verband met sy besoek aan die omstrede profeet Shepherd Bushiri in Malawi.

Dan skryf die webblad die saak teen die vermeende moordenaars van die 81-jarige Hendrik Venter van Kuruman is weens ‘n “gebrek aan geregtelike ywer” van die rol geskrap. Venter is in September verlede jaar by sy plaashek aangeval.

En laastens word berig 38 sogenaamde “busbestuurders” sal die Comrades-atlete vanjaar help om hul pas vol te hou. Die pasaangeërs is ervare atlete wat deelnemers help om die tyd waarvoor hulle mik te haal.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf ook oor Floyd Shivambu. Die koerant berig Shivambu is daarvan beskuldig dat hy die MK-party se provinsiale leier in Mpumalanga, die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane ondermyn het.

# Sowetan:

Berig ‘n party-amptenaar van die IVP, Alco Ngobese het aan die koerant vertel hoe hy voorgegee het hy is dood tydens die sluipmoord op die IVP-LP Khethamabala Sithole in Katlehong. Ngobese is tydens die aanval in die kop geskiet.

# En The Citizen:

Skryf daar is tien-duisende spookwerkers in die staatsdiens wat die belastingbetaler miljarde rand kos. Die meeste kom voor in die polisie, die Onderwysdepartement en Prasa.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig oor die hartseer van Chevon du Toit van Wellington wie se man Berto in ‘n motorongeluk dood is. Chevon is swanger en hulle het ‘n seuntjie Berto Junior.

Tweedens skryf die koerant oor ‘n polisiebeampte van Durban teen wie tugstappe gedoen word nadat hy met ‘n polisievoertuig sonder ‘n bestuurdersdeur rondgery het.

En laastens word berig oor die 17-jarige Mongiwa Ntuli van Johannesburg wat haar graad in aktuariële wetenskap aan Tuks verwerf het.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig daar is gister ‘n inspeksie ter plaatse in Nxuba uitgevoer as deel van die geregtelike ondersoek na die dood van sogenaamde Cradock Vier.

En tweedens skryf die koerant daar is 74 vakante poste vir mediese dokters in Nelson Mandelabaai se drie top-staatshospitale. Dringende chirurgie word vertraag en die gesondheidsorg van armes word belemmer.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf ook oor Floyd Shivambu van die MK-party se lot.

En berig ook oudpresident Jacob Zuma sal steeds antwoorde moet gee in die Thales-wapenbedrogsaak. Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg het sy aansoek om die saak te laat vaar van die hand gewys.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig volgens ‘n skoolhoof het Namibië ‘n probleem met té min en terselfdertyd té veel personeel. Dit blyk dat daar ‘n probleem is met uitplasing want daar is steeds oorvol klaskamers en kinders kan nie weggewys word nie.

Dan skryf die koerant ‘n groenskema in die Kavango-Oosstreek se mielieproduksie is met die helfte verminder weens die onbeskikbaarheid van ’n stroper.

En laastens word berig ’n betalingstelsel wat deur munisipaliteite gebruik word, skep na bewering ’n kringloop van skuld wat inwoners in ’n siklus van agterstallige skuld en ekstra koste hou, selfs al maak hulle gereelde betalings.