Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 Junie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Absa se nuwe uitvoerende hoof, Kenny Fihla se ampstermyn begin vandag amptelik en hy sal sy hande vol hê om die bank se leierskapkrisis in die verlede te laat. Die koerant skryf die bank beoog om sy kleinhandel- en sakebank-ekosisteem te versterk en sy opbrengs te verhoog.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig oor die dood van ‘n bekende sakeman van Namibië, die 59-jarige Bernd Kebbel. Hy het langs die Hoanibrivier gekamp toe hy deur ‘n leeuwyfie aangeval is. Kebbel het hom beywer vir woestynleeus se bewaring.
Dan skryf die webblad die DA en die EFF dring aan op ‘n beraad om oor die weermag te besin. Die partye sê die verdedigingsbedryf is ná jare se verwaarlosing besig om verder agteruit te gaan.
En laastens word berig ‘n bekende prokureur en lektor aan die Universiteit van die Vrystaat, Charles Dell van Bloemfontein, is na ‘n kort siekbed oorlede.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die moordenaars van die slagoffer van ‘n afspraakmoord, Olorato Mongale word volgens die polisie verbind met 22 ander voorvalle waarin vrouens aangeval is.
En tweedens word berig ‘n tweede groep Afrikaner-vlugtelinge het in die VSA aangekom.
# Sowetan:
Berig ‘n sangoma wat in hegtenis geneem is, het na bewering aan die polisie vertel hoe die tweejarige Kutlwano Shalaba wat in November verlede jaar verdwyn het, deur sy ma vergiftig en in ‘n vlak graf begrawe is. Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die liggaam wat verlede week gevind is die van Kutlwano is.
# En The Citizen:
Skryf nagenoeg 14-miljoen mense in Suid-Afrika gaan slaap elke aand honger. Volgens die jongste syfers het die meeste van die huishoudings vroue aan die hoof.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die dood van Bernd Kebbel.
Dan word ook berig ‘n tweede groep Afrikaners wat vlugtelingstatus in die VSA verkry het, het in die land aangekom. Die grootte van die groep kon volgens die koerant nie bevestig word nie.
Voorts skryf die koerant ‘n vroue-atleet wat aan die Slave Route Challenge deelgeneem het, is dood toe ‘n eikeboom op haar geval het.
En laastens is daar nuus oor die akteur Nadia Valvekens se troue.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig oor ‘n gemeenskapsprojek wat in samewerking met joernaliste van die koerant aangepak word om leerders te kry om meer te lees.
En tweedens skryf die koerant daar is onsekerheid oor waar die sokkerklub Chippa United hulself gaan vestig, maar aanduidings is dat hulle in Nelson Mandelabaai sal bly.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor die skuld van die Msunduzi-munisipaliteit wat afgeskryf word.
En berig oor probleme met die instandhouding van die Winston Churchill-teater in Pietermaritzburg.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die dood die afgelope naweek van twee bekendes, die sakeman Bernd Kebbel en die boer Jannie Spangenberg, het Namibiërs geruk. Die koerant skryf die leeu wat Kebbel doodgebyt het, is van kant gemaak.
Tweedens word berig die vliegtuigongeluk waarin Spangenberg Saterdag omgekom het is volgens die polisie steeds ‘n raaisel.
En laastens skryf die koerant die visepresident, Lucia Witbooi en die eerste minister, Elijah Ngurare het die naweek sonder vooraf kennisgewing by die Namafees in Keetmanshoop opgedaag.