Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 27 Mei 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Amerikaanse president Donald Trump het ingestem om die komende G20-beraad in Suid-Afrika by te woon. Dit volg volgens die koerant na ‘n bilaterale vergadering met president Cyril Ramaphosa waarin ‘n reeks handels- en beleggingskwessies bespreek is. Kenners is van mening die besluit om ‘n hoëvlakforum by te woon, dui op ‘n noemenswaardige afwyking van Trump se vorige standpunt.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die weermag het berigte ontken dat Suid-Afrikaanse soldate in die Demokratiese Republiek die Kongo eers hul wapens moet inhandig voordat hul die grens na Rwanda mag oorsteek. Die weermag sê ook dis nie waar dat die soldate steeds wag op ‘n datum vir onttrekking nie.
Tweedens skryf die webblad Solidariteit het ‘n bedrag van sewe-miljoen-rand bewillig vir hul stryd teen die regering se raswette.
En laastens word berig verskeie bekende rock-sterre soos Bruce Springsteen, Taylor Shift en Neil Young het te velde getrek teen die Trump-presidentskap. Hulle sê dis nog nie te laat vir Trump om die gemors reg te maak wat hy veroorsaak nie.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die Suid-Afrikaanse regering het bevestig dat hy nie sal onttrek aan sy saak teen Israel in die Internasionale Geregshof nie, ten spyte van kommer van sommige senior ANC-amptenare dat Ramaphosa oorweeg het om te onttrek ná die vergadering met Trump.
# Sowetan:
Berig oor die brand in Kwa-Thema wat die lewens van ses gesinslede geëis het. Die koerant skryf drie generasies is in die brand uitgewis en die voorval bring die totale aantal brandsterftes die week in Gauteng op 12 te staan.
# En The Citizen:
Skryf oor ‘n gemeenskap in Mpumalanga wat die regering beskuldig dat hul grondeis aan ‘n ander groep toegestaan is om ‘n natuurreservaat te beskerm. Die gemeenskap sê hulle het geen bewys van eiendomsreg nie en kan summier uitgesit word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die dood van ‘n ma, haar dogter en ‘n vriend in ‘n motorongeluk in Namibië. Carol en Shahida Jooste en Matthew Kotze van St Helenabaai was op pad na ‘n troue in Walvisbaai toe die ongeluk gebeur het. Drie insittendes in die ander voertuig is ook dood en twee beseer.
En tweedens berig die koerant die vonnisverrigtinge in die Joshlin Smith-saak begin vandag.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig vullisverwyderaars in Nelson Mandelabaai kontrakteer na bewering hul roetes uit aan ongemagtigde vragmotorbestuurders terwyl hulle steeds die daaglikse bonusse vir voltooide roetes van die Openbare Gesondheidsdepartement eis.
En tweedens skryf die koerant die OP Rugbyunie gaan sy grondwet verander om met ‘n aandelevennoot te onderhandel vir aandele in die unie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ‘n faksie wat die Zoeloekoning Misuzulu kaZwelithini as monarg ondersteun sê die Zoeloetroon is nie in gevaar nie.
En tweedens berig die koerant oor die naelloper Akani Simbine se opgang op die atletiekbaan.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die kunstebedryf in Namibië is gelukkig met die wyse waarop president Netumbo Nandi-Ndaitwah die bedryf behandel. Sy het reeds 50-miljoen-rand aan die kunste toegeken.
En tweedens skryf die koerant soos Die Burger ook oor die motorongeluk op die B1 tussen Rehoboth en Windhoek waarin ses mense omgekom het.