Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 23 Mei 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig Transnet het ‘n verdere 51-miljard-rand in staatswaarborge ontvang, wat die staatsbeheerde spoorweg- en hawe-operateur in staat sal stel om sy skuld te herfinansier en toegang tot kontant te verkry, asook om sy bedrywighede te verbeter en te hervorm.

# Mail & Guardian op Vrydae:

Lei met: “CYRIL SURVIVES THE CIRCUS”. Die koerant skryf die president het boonop met beloftes van verdere handelsgesprekke daar uitgestap.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens oor die saak teen die gewese vroedvrou en verpleegster, Yolandé Maritz-Fouchee wat in die Hooggeregshof in Pretoria teregstaan op elf aanklagte van aanranding. Die hof het gister gehoor sy het by verskeie geleenthede geweier om ‘n ma van Pretoria en haar kind hospitaal toe te neem toe die geboorte skeefgeloop het.

En tweedens skryf die webblad boere van Jan Kempdorp en die Vaalharts-skema is ongelukkig dat die moordenaars van die 60-jarige Attie Jooste in Januarie slegs 18 jaar tronkstraf ontvang het.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Berig talle groot Amerikaanse nuusagentskappe het president Donald Trump se omstrede ontmoeting met president Cyril Ramaphosa skerp gekritiseer en dit beskryf as ‘n georganiseerde politieke lokval deurdrenk met waninligting en rasgelaaide retoriek.

# Sowetan:

Berig dringende teksboodskappe aan haar vriend het ‘n vrou van Limpopo van verkragting gered toe sy deur ‘n Facebook-swendelaar oorval is. Die man het die profiel van ‘n bekende kunstenaar van die provinsie gebruik om haar te mislei.

# En The Citizen:

Skryf oor die sukses van die Suid-Afrikaanse afvaardiging na Washington. Die koerant berig daar heers optimisme, maar die les wat geleer is, is dat Suid-Afrika sy probleme nie langer kan verbloem nie, en dit sluit plaasmoorde in.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Withuis het lof en kritiek uitgelok. Terwyl Ramaphosa dit as suksesvol bestempel het, sê die leier van die Vryheidsfront Plus, Corné Mulder, dit was pynlik om Suid-Afrika se probleme só blootgelê voor die wêreld te sien. Hy sê dit is egter positief dat Ramaphosa uitgereik het om op ekonomiese gebied met die VSA saam te werk.

En tweedens skryf die koerant Kaapstad se rioolverstoppings word onder meer toegeskryf aan klamlappies (wet wipes).

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die meeste van die 13 Afrikaners uit Gqeberha wat na Amerika gevlug het oor rassevervolging, kom uit middelklas woonbuurte in die stad. Die koerant skryf oor ‘n vrou wat haar tasse gepak en haar huis vir 2,3-miljoen-rand in die mark gesit het.

En tweedens skryf die koerant oor die goeie werk van die hoof van die Walmer High School, Lunga Dyani.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die bilaterale samesprekings tussen Suid-Afrika en die VSA is uit talle oorde as suksesvol bestempel.

En berig die invoer van hoendervleis uit Brasillië is gestaak.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig met die sperdatum vir die openbaarmaking van begunstigde eienaars van geregistreerde maatskappye wat reeds verstryk het, voldoen meer as 130-duisend steeds nie aan die wetlike vereiste nie.

Dan skryf die koerant die Hoërhof beslis ten gunste van ‘n jong man wat vroeër die maand skielik van die Namibiese Nasionale Weermag se opleidingsprogram verwyder is.

En laastens is daar nuus oor Knit-a-Bit se tweede hekelmarathon.